Kinnes deur Chase Rhys (KYKNET-RAPPORTPRYS (FILMKATEGORIE) 2019)

COMMENDATIO: KYKNET-RAPPORTPRYS (FILMKATEGORIE) 2019

Kinnes deur Chase Rhys (Kwela)

Die wenroman van vanjaar se filmprys het die beoordelaars opgewonde gemaak met sy vars aanslag, literêre meriete, relevante eietydse storie en opwindende visuele moontlikhede wat vir enige vaardige filmmaker ʼn heerlike en uitdagende speelveld bied. Daarby speel dit af in ʼn interessante milieu vol verskillende strukture en teksture wat tot nou toe afgeskeep is deur die Afrikaanse filmbedryf.

“Die kinnes van vedag dink rêrag hulle’s in ’n movie, nuh,” sê ma Mary na aanleiding van die dramatiese gebeure wat die jongmense in die verhaal moet deurmaak. En dit is hoe die lees van die boek ook voel met Chase Rhys se verwysings na die “songs” op die klankbaan wat die agtergrond verskaf. “Songs” soos “Summertime” wat jy op ʼn afstand oor ʼn karradio hoor speel. Rhys se skryfwerk is gedetailleerd en propvol filmiese verwysings. Die beelde wat hy gebruik, doem glashelder in die leser se verbeelding op – “net soes in ‘n movie”. Want Kinnes woon in Jurassic Park, êrens op die Kaapse Vlakte.  Die naam spreek boekdele van die ongenaakbare plek met afwesige pa’s waar bendes oorheers.

Die vier hoofkarakters van Kinnes is fyn geteken en met groot deernis gestalte gegee.  Hulle staan op die rand van volwassenheid. Elkeen het sy eie individuele aksent wat die verskillende vorms van AfriKaaps – soos Rhys sy taal noem – op ʼn interessante manier illustreer en grootliks help met karakterisering. Hulle word met soveel sterk visuele en emosionele verwysings uitgebeeld dat enige draaiboekskrywer sy hoed sal agternagooi om dié draaiboek met sy inspirerende rolverdeling op papier te kry. Mens stel jou maklik die plakkaat van die film met die afbeelding van die vier aantreklike “kinnes” voor. Elkeen met sy eie verhaal en houding, uitgetof in verpersoonlikte hip-hop-gewaad.

Anwaar Peter Brandt, beter bekend as Ahnie Brandt, is die leier van die Butcher Boys en bly by sy enkelouer, Mary. Sy sal enigiets vir haar kind doen en is die belangrikste volwasse karakter in die storie. Maar tog ʼn ma wat maar anderpad kyk as dit moet. Nicole Lamb is die slim, stil skooldogter wat verlief raak op klasmaat Derick Delcarme. Kort voor lank is die twee verliefdes swanger. “Kinnes” wat kinders kry. Rolanda Fisher, die mooi en gewilde meisie wat elke jaar die modeparade by die skool wen, wil graag ’n Cape Kardashian wees. Sy roem haar op haar mooi voorkoms en dis dan ook haar karakter wat sorg vir die tragies-ironiese einde van die storie. Een en almal volronde karakters met vleis om die been, slaggereed om uitgebeeld te word deur ‘n veelheid talentvolle bruin spelers in die plaaslike filmbedryf.

Daar is ʼn hele paar klassieke films wat in hierdie “gangster”-filmgenre val: John Singleton se Boyz in the Hood, Martin Scorsese se Mean Streets, Sergio Leone se Once Upon a Time in America en selfs iets soos Robert Wise en Jerome Robbins se West Side Story. Maar Kinnes se storie laat mens veral dink aan die skitterende Portugees- Brasiliaanse film City of God wat in 2002 wêreldwyd deur Miramax versprei en vir vier Oscars genomineer is. Die film is ʼn verwerking van die 1997-roman deur Paulo Lins en beeld die werklike gebeure rondom dwelmhandel en bendegeweld in die Cidade de Deus-voorstad in Rio de Janeiro uit.

Die draaiboek van dié film is geskryf deur Bráulio Mantovani en ʼn kragtige aanhaling kom daarin voor: “If you run, the beast catches you; if you stay, the beast eats you.” Dit herinner sterk aan die karakters in Kinnes wat nie uit hulle omstandighede kan ontsnap nie. City of God se bende het bekend geword deur ‘n foto van hulle wat in die koerant gepubliseer is, terwyl Kinnes se Butcher Boys hul bekendheid verwerf omdat hulle as ekstras in die internasionale film GangStar speel. Nadat hulle populariteit begin groei, begin hulle hul eie flieks maak op hulle selfone en hier begin realiteit en fiksie vervleg en bied dit ‘n verskeidenheid interessante moontlikhede vir ʼn filmmaker.

Dis ʼn bonus dat Kinnes omskep kan word in ʼn bekostigbare film wat ook kommersieel lewensvatbaar is. Die kwessies wat die storie aanspreek, is by uitstek relevant op die Kaapse Vlakte, waar die weermag al ingeroep is om vrede te probeer handhaaf in die bloedige “turf wars”. Die positiewe wekroep wat die film kan uitdra, op die plakkaat en in die lokfilm, is een wat daagliks op die nuus te hoor is: “Ons kannie meer onse kinnes verloor nie …”

Met ʼn Afrikaanse hip-hop-klankbaan hoor ek alreeds die Overbergse sanger Frazer Barry se rapliedjie: “Hy was oppad na die skool, Hy wou ’n dokter word, Maar die koeël van ’n gangster het sy lewe verkort. Hoor die stemme van ons mense wat huil, Oor die onnodige Grafte Oppi Vlakte.” In Mercy Kannemeyer se resensie van Kinnes haal sy ’n ander Frazer Barry liedjie aan: “Die kind kry ’n kind, die kind se kind kry ‘n kind en grootmense is kinders wat nooit eers kinders was nie.”

Kinnes: ʼn Onversuikerde, universele verhaal en ʼn waardige, opwindende wenner van die kykNET-Rapport-filmpys vir 2019.

HERMAN BINGE

Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey (KYKNET-RAPPORTPRYS VIR NIEFIKSIE 2019)

COMMENDATIO: KYKNET-RAPPORTPRYS VIR NIEFIKSIE 2019

Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey (Tafelberg)

 Met Jeremy vannie Elsies verruim Vearey die geskrewe Afrikaanstalige kultuur- en kennisveld met belewenisse, lewensbeskouings, geskiedenisse en ervarings wat tot nou toe nog nie met soveel elegansie in populêre Afrikaanse niefiksie geboekstaaf is nie.

“Dit is ʼn ontsettend belangrike boek vir die tyd waarin ons leef,” skryf Valda Jansen, een van die beoordelaars. Hierop brei sy uit: “Soms voel dit vir my asof die laaste 25 jaar net eenvoudig te vinnig verbygegaan het, asof te veel ander dinge ons aandag geverg het, dat daar nie genoeg tyd, verdraagsaamheid, geduld, respek was vir ander se opinie nie. Daar was nie genoeg ruimte vir refleksie/selfrefleksie nie. Die tyd ná 1994, die Mandela-jare en nou ook die tyd ná Mandela, die woede en skaamte oor wat ons vir Zuma en kie toegelaat het om te doen, het ons – mens kan amper sê: gestoomroller. Jeremy Vearey het vir homself die tyd en ruimte geskep om oor sy eie verlede, dié van sy familie en gemeenskap, dié van sy land, te reflekteer en daarmee gee hy vir almal wat in die boek verskyn of oor wie geskryf word, ook vir die leser as buitestander, die ruimte om self na te dink. Dit is iets waarvoor ons nie altyd genoeg tyd het nie.”

Jeremy vannie Elsies verruim die Afrikaanstalige sosiale geskiedskrywing van intellektuele tradisies en onderwys in bruin werkers- en middelklasgemeenskappe en -skole in die 1970’s en 1980’s. Die Unity Movement se impak op onderwys in Afrikaans word byvoorbeeld uitstekend geïllustreer. Dit wys dat daar, benewens Christelik-nasionale onderwys, ʼn ryk en subversiewe tradisie was waarin soveel swart (Biko se definisie, m.a.w. swart inklusief) sprekers van die taal geskool is. Alhoewel Vearey, soos soveel ander, later van die ideologiese aspekte van die Unity Movement agterlaat, bly hy ʼn produk van onderwysers wat deur Paolo Freire en ander beïnvloed is.

Ook die populêre onderwys vanuit sy ma se vakbondagtergrond speel ʼn rol in sy vorming as aktivis. Vearey is ʼn produk van ontneming, diskriminasie en uitbuiting, maar hy is eweneens ʼn produk van hierdie outodidaktiese leeskultuur, wat later meer formeel op skool en universiteit geslyp word. As skrywer is hy bewus van die wisselwerking tussen sy situasie en sy agentskap as denkende mens – hy noem telkens die boeke wat hy gelees het. As hy N.P. van Wyk Louw aanhaal, bewerkstellig hy ʼn gesprek tussen Louw se elite wêreld as willige en later onwillige Afrikaner-nasionalis en die Marxisme waarin Vearey homself later skool. Leesstof is nie deurgaans ernstig, soos die Afrikaanse vertaling van die Kommunistiese Manifes, nie, maar die leser hoor van Fritz Deelman, Konzalik en James Hadley Chase – wat ten spyte van die ligte aard daarvan tóg ʼn invloed op manlikhede en die subjektiewe plasing van die swart leser teenoor die wit held het.

Herman Binge skryf hieroor in sy verslag: “Vir elke Afrikaanse leser is dit opwindend om in ‘n skrywer se voetspore ʼn reis te onderneem deur ʼn landskap wat nog nooit in die Afrikaanse letterkunde ontgin is nie. By Elsiesrivier (Elsies) en “ons djaart in Balvenielaan trek mens weg, noordoos deur die sinkbedekte sandveld van Malawikamp, verby meneer Matunsi se huis” en verder “oor die sandvelde deur sinkkrale tot by dokter Arnold se steenhuisspreekkamer in Connaughtweg”, verby “die nuwe munisipale bloksteenhuise van Uitsig met hulle blikdeure waar elke plek sy eie djaart het”, verder aan tot by die “skipbouers van Eureka­landgoed voordat jy langs die weë van ons gemeenskaplikheid in Tiervlei beland”.

Jeremy vannie Elsies verruim ook die Afrikaanstalige literatuur oor persoonlike transformasie ten tye van politieke transformasie. Waar baie van die boeke in hierdie tradisie handel oor wit sprekers van die taal se inkeer en omkeer (Antjie Krog, Beyers Naudé, Wilhelm Verwoerd, helaas ook Carl Niehaus), word hier van die ander kant af geskryf. Die outobiografiese vertelling is hier van ʼn moontlike bendelid, student-onderwyser en gelyklopende ondergrondse operateur, gevangene, hoëprofiel-lyfwag en later dan polisieman wat bendegeweld bekamp. Persoonlike tragedies word deurgaans onderspeel – Vearey se foltering deur die veiligheidspolisie, die verlies van ʼn liefde terwyl hy in die tronk is.

Dis ook ʼn merkwaardige boek weens subtiele vorme van selfrefleksie, oor byvoorbeeld die konstruksie van manlikheid en hoe dit ʼn rol in sinnelose geweld speel. Die boek staan hier in teenstelling met die meestal middelklas- en wit elite perspektiewe op persoonlike transformasie van die meerderheid Afrikaanstalige outeurs in hierdie genre – Vearey skryf beslis oor “ras”, maar dit word ondervang deur ander vorme van identiteit en dominasie, soos geslagsrolle, seksuele identiteit en klas. As vertelling slaag die boek daarin om die biografiese vertelling binne die groter sosiale omwenteling te plaas.

Die boek verruim verder Afrikaans as geskrewe taal, deur middel van ʼn volgehoue gesprek oor die politieke vorming van die taal en pogings van swart Afrikaanssprekendes om hul liefde vir die “taal van die onderdrukker” met integriteit uit te druk en uit te leef. In hierdie verband is die vertelling oor die 1976-studenteopstande besonder onderhoudend. Vearey skryf ook oor sy liefde vir Afrikaans, maar verwys na ʼn subalterne Afrikaans, die Afrikaans waarin weerstand teen die apartheidsregering beplan en uitgevoer is. Binne hierdie tradisie spot Vearey met ʼn tipe politieke verengelsing by die Universiteit van Wes-Kaapland, ʼn ligter oomblik in die boek, maar ook ʼn belangrike een. Indien die teenswoordige “taalbulle” ernstig is oor al die sprekers van die taal, gaan hulle ook hierdie politieke tradisies moet leer ken en internaliseer, veral in geskiedskrywings van die ontwikkeling van die taal. Neffens die Afrikaanse vertaling van Die Bybel staan daar die Afrikaanse vertaling van die Kommunistiese Manifes. Benewens die NG Kerk as politieke vormgewer, is daar die Morawiese Kerk se subversiewe invloed op Vearey en ander.

Veral verruim die boek die Afrikaanse lesersgehoor. As primêre gehoor is Jeremy vannie Elsies vir Afrikaanssprekendes wat reeds simpatiek is jeens Vearey se politiek geskryf (m.a.w. waarskynlik oorwegend swart sprekers van die taal), maar is inklusief in hoe dit aangebied word, sodat sy sekondêre (wit) lesersgehoor die boek tog toeganklik vind. Valda Jansen skryf in haar verslag: “Feit is vreemder as fiksie. Die storie van een man, marginaal in die verlede, staan nou in die middel van die diskoers in die land van ná-Mandela, ʼn land wat stadig maar seker die stukke optel van die gemors waarin ons onsself bevind. Dalk is hierdie die gewenste boek vir die onsekere tyd waarin ons ons bevind, ‘n tydperk waaroor ons ons behoort te skaam. Deur middel van hierdie boek kyk ons terug na waar ons vandaan kom, kyk in hierdie spieël na wat ons vermag het, ten spyte van ons omstandighede.”

Ter opsomming: Jeremy vannie Elsies getuig van uitstaande vakmanskap en uitstekende vormgewing – spesifiek die kreatiewe gebruik van taal, wat soms in die digterlike oorloop, asook die feit dat die vertelling biografie so suksesvol met historiografie verbind. Dit is inhoudelik oorspronklik in taal en tema – met verwysing na die hoek waaruit persoonlike transformasie aangepak word, asook die vervlegging van identiteitsvorming met idees, asook “ras”, plaaslike kulture, klas en manlikhede. Dit het die beoordelaars as lesers tot dieper en soms nuwe insigte gebring – spesifiek met verwysing na die gesprek tussen Marx en Louw. Wat hulle ook van Vearey se skrywerstem waardeer, is die manier hoe hy sy ouderdom in sy taalgebruik herwin. Sy beskrywings van interaksie met vroue ná sy vrylating uit die tronk is nogal riskant, maar effektief om ʼn sekere atmosfeer te bewerkstellig.

Weer Valda Jansen: “Die boek bewys: Afrikaans is baie meer as dit wat mense tot dusver gedink het.”

En dis ‘n waardige wenner van die kykNET-Rapportprys vir 2019 wat kan kers vashou by die beste niefiksie, plaaslik sowel as internasionaal.

ANDRIES BEZUIDENHOUT

Die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis (KYKNET-RAPPORTPRYS VIR FIKSIE 2019)

COMMENDATIO: KYKNET-RAPPORTPRYS VIR FIKSIE 2019

 Die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis (Tafelberg)

Lodewyk G. du Plessis (Andries Buys) se Die Dao van Daan van der Walt (2018) is ‘n bedevaart vir leesvermoeides – een van daardie uitsonderlike romans wat ’n mens intellektueel uitdaag, met aktuele vraagstukke konfronteer én uiteindelik ook emosioneel aangryp. Te oordeel aan die literêre pryse en akkolades wat dié roman reeds ingepalm het, wil dit voorkom asof Frederik de Jager se woorde op die agterblad – “Hierdie boek behoort ’n golf deur die Afrikaanse letterkunde te stoot” – inderdaad profeties was. En hééltemal verdiend.

Aan die woord is Daan van der Walt, ’n stoere Dopper en eertydse Kalahari-boer (van die plaas Ystervarkfontein), wat ’n vertigo-aanval kry op besoek aan sy seun in China. Wydsbeen oor ’n bruingevlekte sloot in ’n sementvloer, wankel die pilare wat hom al die jare vir die gemeenskap aanvaarbaar gemaak en aan hom ’n mate van sekuriteit en respek verleen het. Skielik verloor hy letterlik en figuurlik sy ewewig en stort ineen: “[M]y kop is op die Smal Weg na die hemel, my voete op die Breë Dao na die verderf en ek, my balans kwyt, is êrens tussenin” .

Sy seun, Jan-Willem, laai hom af by ’n monnikeklooster, ’n “koorsagtige bedryf van die Boeddha” (aldus Daan), waar meester Yang Ying Sheng hom die innerlike deel van gevegskuns leer ten einde sy liggaamlike en psigiese balans te herwin:

“I’m teaching you tài jí, Da Ni Eu,” sê meester Yang, “to regain your balance: to float like a feather, fly like a leaf, hover like a dragonfly, soar like an eagle.” Hy haal twee keer asem. “I want you suspended between heaven and earth. I want you to defy the pull of gravity.” Sy spierwit wenkbroue wip. Die haartjies krul af oor sy oë wat vas in myne kyk. I am introducing you to the Dao. The Way.”

As onwillige askeet “in die land van die feniks en die draak”),  neem Daan hom voor om soos Herodotus en Augustinus van ouds sy persoonlike geskiedenis krities na te spoor en sy eie Historia neer te skryf. Hierdie “ondersoekende reis deur sy geskiedenis” vertoon die kenmerke van ’n belydenis, omdat Daan stelselmatig sy versuime en vergrype daarin openbaar en oplaas ook vergiffenis vra. Aanvanklik is sy relaas lighartig en moedswillig versluierend, maar soos sy inwyding in Boeddhistiese beginsels ontwikkel en sy psigiese proses van selfontdekking vorder, raak hy eerliker.

Vanuit die staanspoor neem Daan sy oorlede vrou, Magrieta, se raad om doelbewus by die sogenaamde “hedelyn” te hou ter harte. In bekentenisse aan sy lieflinghond, Kaspaas (lankal ingespit aan die voetenent van Daan se reeds uitgepleisterde graf op die plaas), en handgeskrewe briewe aan sy vrou, vertel hy oor sy die verblyf in “Die Tempel van Ewige Vrede” in Longshan, China, maar besin hy ook telkens uitgebreid oor gebeure uit sy Suid-Afrikaanse verlede – hier letterlik ’n “ander land”: skuldbesmet en in geheimenis gehul.

Ten einde vorentoe te kan gaan, moet Daan leer om “agteruit te loop” – voetjie vir voetjie op die spoor van sy (soms ondraaglike) herinneringe. Hierdie verwysings na die verlede is, soos Willie Burger tereg uitwys, nie chronologies of sistematies nie, met die gevolg dat die skrywer op dié wyse vernuftig daarin slaag om afwagting te skep en algaande verrassende onthullings te maak wat ’n mens se aandag bly boei. Voorts gee dit ook daartoe aanleiding dat die beeld wat Daan van homself as “stil en sterk” Van der Walt voorhou, nie heeltemal strook met sy werklike ervarings en gewaarwordinge nie. Die leser raak eerder bewus van ’n oënskynlik onoplosbare spanning by Daan, en ontwikkel gevolglik ook simpatie en medelye met hom.

’n Belangrike deel van Daan se moeisame pad na insig (sy Dao), is om te leer hoe om saam met én deur ander mense te lewe. Hiervoor benodig hy ’n nuwe woordeskat (en hoe pragtig kreatief draai Du Plessis nie die krane in die roman oop nie!) wat hom in staat sal stel om vry te raak van sy innerlike spanning en om uit te druk wat hy nooit met sy gebrekkige Dopper-, volks- en regstaal gesê kon kry nie. Langsamerhand leer hy ’n ander, sagter taal aan wat die stiltes tussen hom en sy vrou, hom en sy seun, hom en sy vriende, oorbrug en ’n ander perspektief op sy wêreld oopmaak. Hy besef dat die weg wat hy tot op hede bewandel het, nié die enigste of selfs die ware weg is nie, en stel hom oop vir nuwe insigte ten opsigte van die sin van die lewe, liefde en die dood.

Deurdat Daan, vanweë sy vader se dood, nooit die geleentheid gekry het om as regsgeleerde te praktiseer nie, maar eerder teen sy sin gedwing is om die familieboerdery oor te neem, speel Die Dao van Daan van der Walt veelseggend in op die patroon van die Afrikaanse plaasroman; ’n bykans oorbekende gegewe wat danksy die China-raam verrassend “vreemd” en “nuut” gemaak word. Selfs nog meer verwikkeld as in die parodiërende plaasromans van Etienne van Heerden en Eben Venter word die verhouding tussen Daan en sy seun, Jan-Willem, hier op genuanseerde en uiteindelik aandoenlike wyse gedissekteer. Die enigsins voorspelbare gegewe van ’n gebiedende vader wat feitlik elke cliché van boer wees, manlikheid en Christenskap beliggaam, en die gay seun wat nie daarin kan óf wil slaag om aan die vereistes van sy vader te voldoen nie, word in dié roman besonder slim op die kop gekeer.

Al speel die aflegging van dinge, die wegwerping van bagasie en die losraak van aardse drange so ’n deurslaggewende rol in Daan se relaas, is Die Dao van Daan van der Walt in die eerste plek ’n lewenswerk: dit asem wysheid en ervaring waaraan ’n leeftyd versamel is; dit gooi byna halsstarrig (maar ook hartgrypend mooi) wal teen verlies; én dit huldig die komplekse verhoudings wat ons ondermaanse staning so kosbaar (en kostelik) maak.

Dit is ’n roman wat ’n onuitwisbare indruk op die leser maak, en in alle opsigte ’n waardige wenner van die kykNET-Rapportprys vir Fiksie in 2019.

THYS HUMAN

’n Goeie dag vir boomklim, Jaco Jacobs (2016 Film wenner)

Uitgewer: Lapa

Commendatio: Gerrit Schoonhoven

Reeds in die eerste jaar van hierdie pryse het ’n jeugboek van Jaco Jacobs, Oor ’n motorfiets, ’n zombie-fliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, homself aangemeld as ’n sterk aanspraakmaker op die filmprys.

In daardie jaar het die prys behoort aan ’n volwasse roman, maar in 2015 boor Jacobs ’n aar raak met sy  boek ’n Lekker dag vir boomklim. Hy kry reg om selfs tantes en ooms soos ek weer te laat lees met die hart van ’n kind, oop en ontvanklik vir die groot waarhede en insigte daarin vervat.

Waarhede soos: “Partykeer het ’n mens nodig om raakgesien te word. Daar is te veel bome en diere en mense wat onsigbaar geword het of net verdwyn sonder dat iemand hulle onthou.”

En veral: “… partykeer doen ’n mens in ’n oogwink, sonder om te dink, iets wat jou hele lewe verander.“

Terwyl jy die boek lees, speel die film voor jou af:

Die held Marnus se oudste broer is ’n testosteroongedrewe sportman en hartebreker, sy jonger broer ’n snotkop-entrepreneur wat geld maak deur sy ouboet aan meisies uit te verhuur vir onder andere soenlesse. Briljante idee, behalwe dat die middelkind nog altyd voel asof hy onsigbaar is – en almal se slaaf.

Maar net tot die heldin haar eendag by die voordeur aanmeld, en nie vir soenlesse nie. Leila wil hê Marnus moet ’n petisie teken om die Boom in die middel van haar heelal te red.

Marnus swig voor die uitdaging en bevind homself in ’n avontuur waarin hy nie net ’n groen soldaat word nie, maar ook “raakgesien“ word. Nie net deur sy ouers en broers nie, maar deur ’n ganse gemeenskap bevolk met interessante, kleurryke newekarakters.

Die film eindig waar hy deur Leila raakgesoen word sodat dit voel of sy lyf self boom word. “Asof daar enige oomblik blare en bloeisels uit my lyf te voorskyn kom.“

Die beoogde kyker sal weer eerste liefde beleef, rebellie, konflik met ouers, tiener-angs en vervreemding. Ook ontwaking, dat mens moet en kan opstaan en baklei vir ’n boom, ’n saak waarin jy glo. Ook wanneer om op te hou baklei, “anders raak die baklei partykeer groter as die ding waarteen jy baklei”.

Die dialoog is vars en eenvoudig maar evokatief, die humor net reg, die taal oorspronklik.

Met die filmbedryf in ’n digitale era waar spesiale effekte beskikbaar is, kan ek sien hoe ’n nuwe boom ten slotte uit die afgekapte stomp groei met voëls wat in die takke baljaar – ’n beeld wat ’n gehoor behoorlik duiselig sal laat.

’n Goeie dag vir boomklim verdien om die filmprys te wen. Dis boonop bekostigbaar om te vervaardig, en met dié dat die verhaal ’n paar dae voor Kersfees afspeel, is dit ’n gegewe dat dit ook by die loket sal presteer. Ek sien uit om dit op die silwerdoek te beleef!

 

Donkerstroom, Carel van der Merwe (2016 Niefiksie wenner)

Uitgewer: Human & Rousseau

Commendatio: Dr Irma du Plessis

Die bedrieglik eenvoudige standaardvlag van Carel van der Merwe se Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog versteek die meer verwikkelde, selfs verraderlike lading onder die dek. Van der Merwe skryf ʼn nis oop binne ʼn gewigtige, gevestigde korpus oor hierdie Afrikaanse skrywer wat verrassende nuwe insigte oor Marais oplewer en terselfdertyd wegkalwe aan ander sekerhede, literêr en polities, waarvan die implikasies breër uitkring om met die kontemporêre Suid-Afrikaanse problematiek te resoneer. Dit plaas Donker Stroom in die kader van die “betrokke teks”. Donker stroom se statuur berus op verbeeldingryke en vasberade argiefnavorsing, gerugsteun deur knap en soomlose integrasie van sekondêre literatuur, noukeurige en oorwoë ontledings, en die handhawing van ʼn onderspeelde, geloofwaardige outeurstem.

Van der Merwe slaag daarin om onder die juk van bestaande werk uit te beur sonder geringskatting of onkritiese lof. Onthef van die verantwoordelikheid om ʼn magistrale werk te produseer, skep sy fokus op ʼn onderbeligte greep uit Marais se lewe die ruimte om die narratief maatskaplik en persoonlik dieper in te bed. As ʼn politieke biografie met ʼn psigososiale inslag sal hierdie werk die wyse waarop die bestaande korpus gelees word wesenlik beïnvloed.

Hierbenewens lê Donker stroom se krag in die herbesoek aan die vooroorlogse ZAR tot met Uniewording – ʼn tydvak wat in Benedict Anderson se terminologie gekenmerk word deur die sleutelrol van Afrikaanse drukkapitalisme in die geboorte van die verbeelde gemeenskap van die nasie – maar op ʼn wyse wat konseptueel en temporaal in die tradisie van transnasionalisme aangebied word.

Die jong Marais wat uit Donker stroom na vore kom, is ʼn subjek met ʼn vroeë narsissistiese verwondheid, ʼn verknoopte en gekompromitteerde binnewêreld, en ʼn ongewone dryfveer om maatskaplik-sosiale betrokkenheid en ʼn etiese politieke projek na te streef. Marais se binneworsteling het terselfdertyd ʼn sosiaal-maatskaplike teenhanger wat dit moeilik maak om in die drama wat uitspeel die interne en eksterne breuklyne netjies van mekaar te onderskei. In die verwronge en gekorrupteerde politieke wêreld van die ZAR en in die skadu van Britse Imperialisme word grense verwater en keuses tussen samewerking en inkorporering; kritiese lojaliteit en verraad; binnestander en buitestander; projeksie en herkenning onduidelik. Marais word dus ingeskryf in die representasie-register van die truukster, die bedrieër, die verklikker, die joiner, die impimpi wat telkens in historiografiese en literêre opgawes van die verskeie bevrydingstryde in Suider-Afrika opduik en die skerp onderskeid tussen patriot en verraaier bevraagteken en vertroebel.

Daarby bring Van der Merwe se slotsom oor die oorsprong van Marais se sleutelgedig “Winternag” – as die indrukke van ʼn boere-brandwag in die Suid-Afrikaanse veld wat van ver af kyk na Mapoch se nedersetting wat in ligte laaie staan – ʼn betekenisvolle en onthutsende perspektiefwending te weeg, juis op ‘n moment wanneer vuur weer ʼn hoofrepertorium van politieke stryd in Suid-Afrika is.

Donker stroom is ʼn vlot, fasetryke, en gesofistikeerde teks wat die burgerlike gespreksruimte verruim en dus ʼn waardige wenner van die kykNET-Rapportprys vir 2016.

 

Brandwaterkom, Alexander Strachan (2016 Fiksie wenner)

Uitgewer: Tafelberg

Commendatio: Frederik de Jager

In Brandwaterkom bring Alexander Strachan nie net die Anglo-Boereoorlog en die Grensoorlog opwindend in een verband saam nie, maar bring hy ook oorlogstemas en die strukturele eksperiment van sy hele oeuvre tot ‘n nuwe verdieping. Die beoordelaars was dit eens dat hierdie roman die hoogtepunt van sy werk tot dusver is.

Die Brandwaterkom in die Oos-Vrystaat is terrein wat goed verken is in die Afrikaanse fiksie, veral weens die kapitulering van die onbevoegde generaal Martinus Prinsloo. Strachan ondersoek egter nie in die eerste plek wat daar gebeur het nie, maar neem ‘n lesing van hoe daaroor vertel word.

‘n Geskiedenisstudent, die fiktiewe Esther Emmenes, vestig haar op Fouriesburg om navorsing te doen oor die werklike veldkornet Fanie Vilonel wat hom later by die Engelse magte aangesluit het. Die karakter Bullet uit Strachan se vorige roman, Dwaalpoort, kom soos ‘n dwaalkoeël daar aan om haar met haar navorsing by te staan. Hy is een van die versaakte soldate wat in die jare sewentig na Angola gestuur is. Catharina Venter, weer ‘n historiese figuur en een van die vroue wat in die holkranse van die hoogland geskuil het, probeer ook om Esther se gedagtes te beïnvloed.

Daar ontvou ‘n meervoud verhale van verraad.  Eerstens oorlogsverraad – onder Catharina se famililede, by Vilonel die joiner, maar ook die implisiete verraad van die apartheidsowerheid teenoor die soldate soos Bullet. Verder skryf die fiktiewe Esther huweliksverraad fiktief in by haar historiese relaas oor Vilonel. Uiteindelik is dit verraad wat onderliggend aan die hele boek lê, naamlik die bedrieglike spel van ‘n komplekse stel verhoudings tusssen verteller en teks, en tussen teks en leser.

Een van die dinge wat Strachan onderskei, is hoe hy sy medium – die roman – vervorm tot geskikte draer van wat hy wil sê. Hy gebruik een verteller uit die werklike geskiedenis saam met een wat suiwer fiktief is en nog een (of dalk twee) wat op geheimsinnige wyse in- en uitmekaar skuif. Hy bring ‘n verteller (een met ‘n geskrewe teks in sy sak) uit sy vorige roman by hierdie roman in – een wat ook met biografiese elemente van Strachan self oorvleuel. Hy laat ‘n historiese persoon op ‘n fiktiewe persoon influister oor haar werk oor ‘n ander historiese persoon. Die wedersydse inspeel op mekaar van vertellers en verteldes gebeur dus op oormekaarliggende vlakke in historiese tyd. En wanneer dit gebeur in ‘n konteks van verraad, wanneer vertellers beheer oor hulle karakters verloor, en wanneer historiese relaas onbewustelik oorgaan in fiksie, staan geskiedskrywing self in nuwe lig gekaats en vra ons die vraag: wat is geskiedenis?

Vir die betowering van die raaiselagtige wat hy met soveel presisie, integriteit en gravitas uitgeskryf het, is hierdie skrywer vele male bekroon. Die noukeurigheid van sy skryfwerk, die selfvertroue van aanpak, die opwindende besinning oor die aard van sy medium, sy oortuigende karakters en sy vorentoe stuwende prosa … dit alles maak van Strachan een van ons skerpste en subtielste skrywers en een wat, soos hier, ‘n deksels vernuftige storieverteller is. Een wat in elke opsig verdien om bekroon te word met die kykNET-Rapportprys vir 2016.

Frederik de Jager, keurder

Buys, Willem Anker (2015 Fiksie wenner)

Uitgewer: Kwela

Commendatio: Thys Human, Noordwes-universiteit.

Die besondere belofte wat Willem Anker met sy debuutroman Siegfried getoon het, en die verwagtings wat die bekroning van dié roman en die daaropvolgende toekenning van die Jan Rabie/Marjorie Wallace-skrywersbeurs geskep het, word in Anker se tweede, groots opgesette roman, Buys, volledig vervul.

Soos sy weerbarstige titelkarakter, is Buys ’n roman wat bestaande grense (literêr en andersins) uitdaag én oorskry. Dit is enersyds ’n historiese roman wat ’n omvattende oorsig oor die lewe van die legendariese Coenraad de Buys – Afrikaans se voorste anargis – bied; maar andersyds ook gevestigde aannames oor die (Suid-)Afrikaanse geskiedenis ondermyn aan die hand van die mites en oorvertellinge wat met die loop van tyd rondom De Buys tot stand gekom het. En soos wat Buys uit die stof van argiewe en vergeelde dokumente voor die leser se oog verrys, besin die skrywer terselfdertyd oor die uitdagings en eise wat biografiese skryfwerk in fiksievorm stel.

Deur gebruik te maak van ’n alwetende verteller – “Alom Buys” – wat nie net die begrensinge van tyd en plek oorstyg nie, maar die leser ook direk en dikwels sameswerend aanspreek, slaag Anker meesterlik daarin om die retrospektiewe en prospektiewe registers in sy roman soomloos te integreer, maar ook om die leser op ’n baie spesifieke wyse by die vertelling te betrek; hom/haar te “verblind en te verbyster met [s]y gestaltes, met [s]y alvermoënde blik” (2014:10).

Sonder ’n megalomaniese drang om die hoofkarakter te deurgrond of vas te pen, skets Anker Coenraad de Buys as iemand in wie onoplosbare paradokse saambestaan en enduit om oorheersing veg. Hy is ’n man wat teenkanting as kernbeginsel verteenwoordig. ’n Kalant van vele inkarnasies: “vagebond en boekengek, smokkelaar, (…) jagter, veelwywer, redenaar, plunderaar, patriot, klipneuker.” (2014:10-11) En ten spyte daarvan dat Buys soms so onredelik wind-op, dwarstrekkerig en onapologeties kan wees, wek hy uiteindelik as “dying animal” – broos uitgelewer aan die beperkinge van sy ouerwordende lyf – ook simpatie by die leser.

John Updike het by geleentheid gesê dat ’n grootse roman gekenmerk word deur die totstandkoming van ’n eie taal. En dit is by uitstek die geval in Buys. Sonder oordaad of eksesse bewerkstellig Anker met die oordeelkundigste van woordkeuses subtiele verskuiwings in verteltoon (vanaf dit wat skok en ontstel tot dit wat die hart wring) en roep hy sodoende ’n verbygegane wêreld in volgehoue “Kaaps-Hollands” glashelder voor die oog.

Buys is ’n grensroman wat die hele idee van grense grondig uitdaag. Deeglik gewortel in die historiese aarde van dié klipperige kontinent, groei dit uit tot ’n magistrale eietydse besinning oor identiteit (en spesifiek Afrikaneridentiteit), verset, korrupsie, geweld, magsmisbruik en moraliteit (of dan eerder – en dit is selfs meer ontstellend – ’n gebrek daaraan). Dit is ’n roman wat in elke opsig die kykNET-Rapport Boekprys waardig is.