Wonderboom, Lien Botha (2016 Jan Rabie-Rapportprys)

Uitgewer: Queillerie

Commendatio: Danie Marais

Lien Botha het as internasionaal gerekende fotograaf haar skerp oog vir visuele kuns herhaaldelik in die afgelope drie dekades ten toon gestel. Met haar romandebuut wys sy hoe kragtig daardie selfde fyn blik in en deur die letterkunde lig kan werp op die binnewêreld van die gefolterde postkoloniale kind van setlaars wanneer dit geprojekteer word op ’n helaas heel waarskynlike en ongemaklik nabye apokaliptiese toekoms.

Wonderboom is ’n distopiese roman wat verskeie raakpunte het met Eben Venter se Horrelpoot en Cormac McCarthy se Pulitzer-wenner, The Road, asook met Karel Schoeman se Afskeid en vertrek. Ook Botha se protagonis moet haar weg baan deur ’n verwoeste, gevaarlike wêreld en die brokstukke van ’n vervalle samelewing op soek na oorlewings- en betekenismoontlikhede. En ook Botha se vertelling bespiegel oor die moontlikheid van sin en singewing, identiteit en moraliteit binne ’n gebroke sosio-politiese konteks en die ruïnes van ’n simboliese orde. Die roman betrek ook die outeur se familiegeskiedenis as verwysingsraam vir Magriet se reis – Wonderboom is die kiesafdeling wat deur haar pa in die Volksraad verteenwoordig is tot 1994.

Magriet se reis met haar viool van die geknelde Kaap na ’n onheilspellende Pretoria is egter veel meer as die bogenoemde romans ook ’n besinning oor die waarde en rol van kuns buite ’n gevestigde kulturele idioom; ’n verkenningstog wat met groot liriese spronge en opwindende taal bekoor, terwyl dit ingewikkelde gesprekke voer met die hede, verlede en ’n moontlike toekoms en daarmee saam ook met Die kremetartekspedisie van Wilma Stockenström en Etienne Leroux se Magersfontein o, Magersfontein.

Wonderboom is ’n ryk, poëtiese en beduidende toevoeging tot die Afrikaanse romankuns; ’n literêre koorsdroom deur ’n kunstenaar wat haar gehoor se blik onthutsend verstel, verbreed en verfyn. Dit is ’n waardige wenner van die Jan Rabie-Rapportprys vir 2016.

 

’n Goeie dag vir boomklim, Jaco Jacobs (2016 Film wenner)

Uitgewer: Lapa

Commendatio: Gerrit Schoonhoven

Reeds in die eerste jaar van hierdie pryse het ’n jeugboek van Jaco Jacobs, Oor ’n motorfiets, ’n zombie-fliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, homself aangemeld as ’n sterk aanspraakmaker op die filmprys.

In daardie jaar het die prys behoort aan ’n volwasse roman, maar in 2015 boor Jacobs ’n aar raak met sy  boek ’n Lekker dag vir boomklim. Hy kry reg om selfs tantes en ooms soos ek weer te laat lees met die hart van ’n kind, oop en ontvanklik vir die groot waarhede en insigte daarin vervat.

Waarhede soos: “Partykeer het ’n mens nodig om raakgesien te word. Daar is te veel bome en diere en mense wat onsigbaar geword het of net verdwyn sonder dat iemand hulle onthou.”

En veral: “… partykeer doen ’n mens in ’n oogwink, sonder om te dink, iets wat jou hele lewe verander.“

Terwyl jy die boek lees, speel die film voor jou af:

Die held Marnus se oudste broer is ’n testosteroongedrewe sportman en hartebreker, sy jonger broer ’n snotkop-entrepreneur wat geld maak deur sy ouboet aan meisies uit te verhuur vir onder andere soenlesse. Briljante idee, behalwe dat die middelkind nog altyd voel asof hy onsigbaar is – en almal se slaaf.

Maar net tot die heldin haar eendag by die voordeur aanmeld, en nie vir soenlesse nie. Leila wil hê Marnus moet ’n petisie teken om die Boom in die middel van haar heelal te red.

Marnus swig voor die uitdaging en bevind homself in ’n avontuur waarin hy nie net ’n groen soldaat word nie, maar ook “raakgesien“ word. Nie net deur sy ouers en broers nie, maar deur ’n ganse gemeenskap bevolk met interessante, kleurryke newekarakters.

Die film eindig waar hy deur Leila raakgesoen word sodat dit voel of sy lyf self boom word. “Asof daar enige oomblik blare en bloeisels uit my lyf te voorskyn kom.“

Die beoogde kyker sal weer eerste liefde beleef, rebellie, konflik met ouers, tiener-angs en vervreemding. Ook ontwaking, dat mens moet en kan opstaan en baklei vir ’n boom, ’n saak waarin jy glo. Ook wanneer om op te hou baklei, “anders raak die baklei partykeer groter as die ding waarteen jy baklei”.

Die dialoog is vars en eenvoudig maar evokatief, die humor net reg, die taal oorspronklik.

Met die filmbedryf in ’n digitale era waar spesiale effekte beskikbaar is, kan ek sien hoe ’n nuwe boom ten slotte uit die afgekapte stomp groei met voëls wat in die takke baljaar – ’n beeld wat ’n gehoor behoorlik duiselig sal laat.

’n Goeie dag vir boomklim verdien om die filmprys te wen. Dis boonop bekostigbaar om te vervaardig, en met dié dat die verhaal ’n paar dae voor Kersfees afspeel, is dit ’n gegewe dat dit ook by die loket sal presteer. Ek sien uit om dit op die silwerdoek te beleef!

 

Donkerstroom, Carel van der Merwe (2016 Niefiksie wenner)

Uitgewer: Human & Rousseau

Commendatio: Dr Irma du Plessis

Die bedrieglik eenvoudige standaardvlag van Carel van der Merwe se Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog versteek die meer verwikkelde, selfs verraderlike lading onder die dek. Van der Merwe skryf ʼn nis oop binne ʼn gewigtige, gevestigde korpus oor hierdie Afrikaanse skrywer wat verrassende nuwe insigte oor Marais oplewer en terselfdertyd wegkalwe aan ander sekerhede, literêr en polities, waarvan die implikasies breër uitkring om met die kontemporêre Suid-Afrikaanse problematiek te resoneer. Dit plaas Donker Stroom in die kader van die “betrokke teks”. Donker stroom se statuur berus op verbeeldingryke en vasberade argiefnavorsing, gerugsteun deur knap en soomlose integrasie van sekondêre literatuur, noukeurige en oorwoë ontledings, en die handhawing van ʼn onderspeelde, geloofwaardige outeurstem.

Van der Merwe slaag daarin om onder die juk van bestaande werk uit te beur sonder geringskatting of onkritiese lof. Onthef van die verantwoordelikheid om ʼn magistrale werk te produseer, skep sy fokus op ʼn onderbeligte greep uit Marais se lewe die ruimte om die narratief maatskaplik en persoonlik dieper in te bed. As ʼn politieke biografie met ʼn psigososiale inslag sal hierdie werk die wyse waarop die bestaande korpus gelees word wesenlik beïnvloed.

Hierbenewens lê Donker stroom se krag in die herbesoek aan die vooroorlogse ZAR tot met Uniewording – ʼn tydvak wat in Benedict Anderson se terminologie gekenmerk word deur die sleutelrol van Afrikaanse drukkapitalisme in die geboorte van die verbeelde gemeenskap van die nasie – maar op ʼn wyse wat konseptueel en temporaal in die tradisie van transnasionalisme aangebied word.

Die jong Marais wat uit Donker stroom na vore kom, is ʼn subjek met ʼn vroeë narsissistiese verwondheid, ʼn verknoopte en gekompromitteerde binnewêreld, en ʼn ongewone dryfveer om maatskaplik-sosiale betrokkenheid en ʼn etiese politieke projek na te streef. Marais se binneworsteling het terselfdertyd ʼn sosiaal-maatskaplike teenhanger wat dit moeilik maak om in die drama wat uitspeel die interne en eksterne breuklyne netjies van mekaar te onderskei. In die verwronge en gekorrupteerde politieke wêreld van die ZAR en in die skadu van Britse Imperialisme word grense verwater en keuses tussen samewerking en inkorporering; kritiese lojaliteit en verraad; binnestander en buitestander; projeksie en herkenning onduidelik. Marais word dus ingeskryf in die representasie-register van die truukster, die bedrieër, die verklikker, die joiner, die impimpi wat telkens in historiografiese en literêre opgawes van die verskeie bevrydingstryde in Suider-Afrika opduik en die skerp onderskeid tussen patriot en verraaier bevraagteken en vertroebel.

Daarby bring Van der Merwe se slotsom oor die oorsprong van Marais se sleutelgedig “Winternag” – as die indrukke van ʼn boere-brandwag in die Suid-Afrikaanse veld wat van ver af kyk na Mapoch se nedersetting wat in ligte laaie staan – ʼn betekenisvolle en onthutsende perspektiefwending te weeg, juis op ‘n moment wanneer vuur weer ʼn hoofrepertorium van politieke stryd in Suid-Afrika is.

Donker stroom is ʼn vlot, fasetryke, en gesofistikeerde teks wat die burgerlike gespreksruimte verruim en dus ʼn waardige wenner van die kykNET-Rapportprys vir 2016.

 

Brandwaterkom, Alexander Strachan (2016 Fiksie wenner)

Uitgewer: Tafelberg

Commendatio: Frederik de Jager

In Brandwaterkom bring Alexander Strachan nie net die Anglo-Boereoorlog en die Grensoorlog opwindend in een verband saam nie, maar bring hy ook oorlogstemas en die strukturele eksperiment van sy hele oeuvre tot ‘n nuwe verdieping. Die beoordelaars was dit eens dat hierdie roman die hoogtepunt van sy werk tot dusver is.

Die Brandwaterkom in die Oos-Vrystaat is terrein wat goed verken is in die Afrikaanse fiksie, veral weens die kapitulering van die onbevoegde generaal Martinus Prinsloo. Strachan ondersoek egter nie in die eerste plek wat daar gebeur het nie, maar neem ‘n lesing van hoe daaroor vertel word.

‘n Geskiedenisstudent, die fiktiewe Esther Emmenes, vestig haar op Fouriesburg om navorsing te doen oor die werklike veldkornet Fanie Vilonel wat hom later by die Engelse magte aangesluit het. Die karakter Bullet uit Strachan se vorige roman, Dwaalpoort, kom soos ‘n dwaalkoeël daar aan om haar met haar navorsing by te staan. Hy is een van die versaakte soldate wat in die jare sewentig na Angola gestuur is. Catharina Venter, weer ‘n historiese figuur en een van die vroue wat in die holkranse van die hoogland geskuil het, probeer ook om Esther se gedagtes te beïnvloed.

Daar ontvou ‘n meervoud verhale van verraad.  Eerstens oorlogsverraad – onder Catharina se famililede, by Vilonel die joiner, maar ook die implisiete verraad van die apartheidsowerheid teenoor die soldate soos Bullet. Verder skryf die fiktiewe Esther huweliksverraad fiktief in by haar historiese relaas oor Vilonel. Uiteindelik is dit verraad wat onderliggend aan die hele boek lê, naamlik die bedrieglike spel van ‘n komplekse stel verhoudings tusssen verteller en teks, en tussen teks en leser.

Een van die dinge wat Strachan onderskei, is hoe hy sy medium – die roman – vervorm tot geskikte draer van wat hy wil sê. Hy gebruik een verteller uit die werklike geskiedenis saam met een wat suiwer fiktief is en nog een (of dalk twee) wat op geheimsinnige wyse in- en uitmekaar skuif. Hy bring ‘n verteller (een met ‘n geskrewe teks in sy sak) uit sy vorige roman by hierdie roman in – een wat ook met biografiese elemente van Strachan self oorvleuel. Hy laat ‘n historiese persoon op ‘n fiktiewe persoon influister oor haar werk oor ‘n ander historiese persoon. Die wedersydse inspeel op mekaar van vertellers en verteldes gebeur dus op oormekaarliggende vlakke in historiese tyd. En wanneer dit gebeur in ‘n konteks van verraad, wanneer vertellers beheer oor hulle karakters verloor, en wanneer historiese relaas onbewustelik oorgaan in fiksie, staan geskiedskrywing self in nuwe lig gekaats en vra ons die vraag: wat is geskiedenis?

Vir die betowering van die raaiselagtige wat hy met soveel presisie, integriteit en gravitas uitgeskryf het, is hierdie skrywer vele male bekroon. Die noukeurigheid van sy skryfwerk, die selfvertroue van aanpak, die opwindende besinning oor die aard van sy medium, sy oortuigende karakters en sy vorentoe stuwende prosa … dit alles maak van Strachan een van ons skerpste en subtielste skrywers en een wat, soos hier, ‘n deksels vernuftige storieverteller is. Een wat in elke opsig verdien om bekroon te word met die kykNET-Rapportprys vir 2016.

Frederik de Jager, keurder

Buys, Willem Anker (2015 Fiksie wenner)

Uitgewer: Kwela

Commendatio: Thys Human, Noordwes-universiteit.

Die besondere belofte wat Willem Anker met sy debuutroman Siegfried getoon het, en die verwagtings wat die bekroning van dié roman en die daaropvolgende toekenning van die Jan Rabie/Marjorie Wallace-skrywersbeurs geskep het, word in Anker se tweede, groots opgesette roman, Buys, volledig vervul.

Soos sy weerbarstige titelkarakter, is Buys ’n roman wat bestaande grense (literêr en andersins) uitdaag én oorskry. Dit is enersyds ’n historiese roman wat ’n omvattende oorsig oor die lewe van die legendariese Coenraad de Buys – Afrikaans se voorste anargis – bied; maar andersyds ook gevestigde aannames oor die (Suid-)Afrikaanse geskiedenis ondermyn aan die hand van die mites en oorvertellinge wat met die loop van tyd rondom De Buys tot stand gekom het. En soos wat Buys uit die stof van argiewe en vergeelde dokumente voor die leser se oog verrys, besin die skrywer terselfdertyd oor die uitdagings en eise wat biografiese skryfwerk in fiksievorm stel.

Deur gebruik te maak van ’n alwetende verteller – “Alom Buys” – wat nie net die begrensinge van tyd en plek oorstyg nie, maar die leser ook direk en dikwels sameswerend aanspreek, slaag Anker meesterlik daarin om die retrospektiewe en prospektiewe registers in sy roman soomloos te integreer, maar ook om die leser op ’n baie spesifieke wyse by die vertelling te betrek; hom/haar te “verblind en te verbyster met [s]y gestaltes, met [s]y alvermoënde blik” (2014:10).

Sonder ’n megalomaniese drang om die hoofkarakter te deurgrond of vas te pen, skets Anker Coenraad de Buys as iemand in wie onoplosbare paradokse saambestaan en enduit om oorheersing veg. Hy is ’n man wat teenkanting as kernbeginsel verteenwoordig. ’n Kalant van vele inkarnasies: “vagebond en boekengek, smokkelaar, (…) jagter, veelwywer, redenaar, plunderaar, patriot, klipneuker.” (2014:10-11) En ten spyte daarvan dat Buys soms so onredelik wind-op, dwarstrekkerig en onapologeties kan wees, wek hy uiteindelik as “dying animal” – broos uitgelewer aan die beperkinge van sy ouerwordende lyf – ook simpatie by die leser.

John Updike het by geleentheid gesê dat ’n grootse roman gekenmerk word deur die totstandkoming van ’n eie taal. En dit is by uitstek die geval in Buys. Sonder oordaad of eksesse bewerkstellig Anker met die oordeelkundigste van woordkeuses subtiele verskuiwings in verteltoon (vanaf dit wat skok en ontstel tot dit wat die hart wring) en roep hy sodoende ’n verbygegane wêreld in volgehoue “Kaaps-Hollands” glashelder voor die oog.

Buys is ’n grensroman wat die hele idee van grense grondig uitdaag. Deeglik gewortel in die historiese aarde van dié klipperige kontinent, groei dit uit tot ’n magistrale eietydse besinning oor identiteit (en spesifiek Afrikaneridentiteit), verset, korrupsie, geweld, magsmisbruik en moraliteit (of dan eerder – en dit is selfs meer ontstellend – ’n gebrek daaraan). Dit is ’n roman wat in elke opsig die kykNET-Rapport Boekprys waardig is.

Nagmusiek, Stephanus Muller (2015 Niefiksie wenner)

Uitgewer: Fourth Wall Books

Commendatio: Herman Wasserman, Universiteit van Kaapstad

‘Alles van waarde is weerloos’, lui die bekende reël deur die Nederlandse digter Lucebert. Hierdie uitsonderlike en by tye verbluffende werk van Stephanus Muller spruit uit ‘n akute bewustheid van hierdie weerloosheid van die kuns, en uit die impuls om nogtans iets van waarde te probeer bewaar –  ten midde van die aanslae daarteen, ten spyte van die onbetroubaarheid van herinnering, en ongeag die broosheid van die skryfdaad self.

In die voorwoord tot die katalogus van Van Wyk se werk (wat volume I van die Nagmusiek drieluik uitmaak), kontekstualiseer Muller die werk as volg:

“Die tradisie waarbinne hy (Van Wyk) gewerk het, is in die Suid-Afrika van die vroeg een en twintigste eeu betreklik onbelangrik. En as die veralgemening gewaag kan word dat die man op straat nie weet wie Arnold van Wyk is of hoe sy musiek klink nie, kan die stelling ook gewaag word dat die opkomende middelklas en intelligentsia in Suid-Afrika in die afsienbare toekoms nie sal belangstel om te vra nie. In die lig hiervan moet ‘n projek soos hierdie een nie net gesien word as ‘n projek wat sensitief staan teenoor die bewaring van ‘n bepaalde aspek van Suid-Afrika se kultuurerfenis nie, en ook nie net as die uitbou van die akademiese infrastruktuur van ‘n bepaalde tersiêre instelling nie. Hierdie projek is inderdaad ‘n daad van kanonisering (…) wat sê: Deur die omvang van hierdie arbeid konstateer ons Arnold van Wyk se belang vir al ons mense, en die unieke bydrae wat hy gelewer het om ons posisie en menswees in Suid-Afrika uit te sê in die medium van klank”.

Hierdie is nie ‘n boek wat waarde heg aan massa-aanhang nie – nóg aan die musiek waaroor geskryf word, nog aan die publikasie self. Dit is eerder een wat weet dat die openbare belang iets anders is as die openbare nuuskierigheid, dat waarde en populariteit nie noodwendig saamhang nie. Desnieteenstaande is Nagmusiek beslis nie ‘n ontoeganklike boek nie. Ten spyte van die enorme argivale werk en die hoogstaande deskundige kennis wat belê is om hierdie kanoniseringsprojek te weeg te bring, is dit allermins ‘n droë akademiese teks, nóg ‘n arrogante een wat die belangrikheid van ‘n bepaalde kunsvorm aan die leser wil afdwing. Inteendeel – daar word juis deurgaans die draak gesteek met elitism en snobisme. Die leser kry te make met ‘n biograaf wat self weerloos voel, wat twyfel aan sy eie vermoëns, huiwerend die pen opneem en bedenkinge het oor die aard van die biografie. Die kunstenaar wat gekanoniseer word is ook allermins ‘n gepantserde esteet. Hy word geteister deur tandpyn, melancholie, eensaamheid.

Dit is dus gepas dat hierdie weerloosheid van beide kunstenaar en biograaf aan ons gebied word in vorm wat opsigself inbuig, as’t ware sigself voortdurend betwyfel. Die biografie word aangebied as fiksie, oftewel ‘n hibried tussen feit en fiksie – wat soms in Engels as ‘faction’ bekendstaan. Metafiksionele elemente soos notas deur die biograaf aan homself, binne die raam van ‘n fiksionele outobiografiese vertelling, word verweef met empiriese gegewens soos dagboekuittreksels, foto’s, en partiture. Hierdie vernuftig postmodernistiese – maar onderhoudende en selfs vermaaklike – wyse waarop Van Wyk se lewe uitgebeeld word, is nie maar ‘n stilistiese truuk nie. Dit dien as voertuig om indringende vrae te opper oor die aard van biografiese geskiedskrywing, die posisie van die biograaf, die konstruksie van akademiese kennis en gesag, en die rol van die kunstenaar in ons samelewing. Net soos die musiek, word die geskiedenis ook voortdurend omring deur stiltes. Soos veral die slothoofstuk suggereer, is daar ‘n dun membraan tussen feit en fiksie, herinnering en vergetelheid, tussen skoonheid en die dood. Waarde en weerloosheid bly met mekaar verweef.

Nagmusiek is ‘n tegniese kragtoer en ‘n hoogs geslaagde eksperimentele waagstuk wat verdien om bekroon te word met die 2015 kykNET-Rapport Boekprys vir nie-fiksie.