Strafjaart deur Theo Kemp

Huldigingswoord Jan Rabie-Rapportprys 2020

Strafjaart deur Theo Kemp


Met sy eerste twee romans, Skool (2010) en Strafjaart (2019), wys Theo Kemp hoe kragtig faction ingespan kan word om die ingewikkelde Suid-Afrikaanse samelewing beter te probeer verstaan. Die hoofkarakters in beide verhale is wit, Afrikaanse mans wie se navorsing oor en ervarings met, onderskeidelik, die Suid-Afrikaanse skool- en tronkstelsel hulle nie net met gebroke oplossings vir ’n verskeurde samelewing konfronteer nie, maar ook met hulself – hul vooroordele en bevoorregte posisie binne hierdie samelewing waaraan almal aandadig is.

Met Strafjaart raak die protagonis, wat ’n familielid in Pollsmoor besoek, nog intiemer verstrengel met die lewens waarvan hy probeer sin maak as in Skool en word hy ook deegliker deur die teks geproblematiseer en bevraagteken. Later wonder hy: “Dalk moes ek hierheen kom om gekonfronteer te word met die oeroue vraag wat ons dink ons weet: Wie is slagoffer, wie is sondebok?” 

Strafjaart speur daardie vraag vreesloos en aangrypend na. Theo Kemp wys die berugte Pollsmoor vir die leser as ’n ruimte gemaak van en deur vlees en bloed.

“Witness is what you must bear” skryf Margaret Atwood in haar gedig “Notes Towards a Poem that Can Never Be Written”. Strafjaart is ’n herinnering aan die waarde van letterkunde wat bereid is om die gefolterde getuie te wees van alles waarvan ’n samelewing in desperate ontkenning probeer leef.

Danie Marais, skrywer en joernalis