Niefiksie 2018: Commendatio

Elsa Joubert – Spertyd

Hoe onthou ons? In Spertyd skryf Elsa Joubert oor ’n insident uit haar kinderjare, toe haar ma onseker was oor ’n padkoshoender wat buite die yskas gestaan het. Haar pa weet die hoender is waarskynlik heeltemal eetbaar, maar besluit om dit af te staan, ter wille van sy vrou se gemoed. Elsa, as kind, moet dit aan mense op ’n donkiekarretjie langs die pad oorhandig. Hierdie insident, ’n giftige daad van welsyn, word in die vertelling onderspeel, maar vertel daarom juis soveel meer.

Spertyd is deels tragikomiese beskrywing van die lewe in ’n gegoede Kaapse aftreeoord, met ’n aantal van Kaapstad se kulturele en intellektuele elite – skrywers, uitgewers, kunstenaars – as hoof- en bykarakters. Dis ’n merkwaardige meditasie op oudword in die stem van ’n beleë skrywer; dit lees gemaklik, onderhoudend. Joubert beskryf die kil afdraand van die dag in helder, soms humoristiese, deurgaans deernisvolle taal: die onbetroubare liggaam, die wegval van vriende, die klein dramas wat hul afspeel in ’n bejaarde gemeenskap. Die vertelling is egter nóg anekdote nóg klaaglied – Joubert gebruik haar fyn, self-relativerende waarneming van die alledaagse as ’n vertrekpunt vir die bepeinsing van meer universele bemoeienisse: wat dit is om sinvol te lewe en berustend te sterwe; hoe ’n mens verhoudinge aangaan en in stand hou; hoe ’n mens jouself tot verantwoording roep oor jou eie staanplek in die geskiedenis van ’n land en dié van ’n kontinent. Dis die oproep van hierdie temas wat Spertyd laat resoneer met Joubert se hele oeuvre.

In die voorlaaste hoofstuk skryf sy: “Dis eintlik ’n boek oor die menslike bestaan hierdie. Waartoe word alles gebring?” Hierop volg ’n besinning oor stilte, dat om stil te word en met jou kern kennis te maak ook deels ’n liggaamlike ervaring is, dat die dood uiteindelik die voltrekking van daardie stilte is. Ook van boeke word daar afskeid geneem, as lees en skryf in stilte oorgaan. Hierdie herbesoek aan die verlede aan die hand van herinneringe wat vervaag, is ’n herbevestiging van die skrywersetiek, wat merkbaar is vanaf Joubert se vroegste treë as skrywer tot hier, teen spertyd – ’n waardige en betekenisvolle boek om met die KykNet-Rapportprys vir niefiksie bekroon te word.

Andries Bezuidenhout