KYKNET-RAPPORT BOEKRESENSENT VAN DIE JAAR 2019: FIKSIE

COMMENDATIO: KYKNET-RAPPORT BOEKRESENSENT VAN DIE JAAR 2019: FIKSIE

Deborah Steinmair oor Liefde in die tyd van die internet (Fransi Phillips)

https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/baldadig-en-boheems-soos-n-russiese-serp-20180727

In haar resensie van Fransi Phillips se boek Liefde in die tyd van internet noem Deborah Steinmair die boek baldadig. Hierdie baldadigheid is ook een van die hoofkenmerke van haar heerlike resensie.

Sy skop die resensie af met ’n persoonlike herinnering, en plaas haarself so binne-in die resensie, soos ons vinnig hoor die skrywer ook in die boek maak. Die Turtle Wax-politoer-herinnering waarmee die resensie begin is onweerstaanbaar. Dit maak ruimte oop vir inkyk, en as leser laat dit jou onmiddellik verstaan met watter soort boek jy te doen het.

Steinmair se presiese, akrobatiese sinne vang essensie vas, byvoorbeeld wanneer sy skryf: “Dit is posteksperimenteel met binnegoed wat tergend uithang terwyl die skrywer geluidloos lag” of: “Wanneer Phillips werk is sy ’n natuurwet, ’n galoppende wildehond in die woude”.

In hierdie resensie gebruik Steinmair ook die teenstelling tussen haar waardering vir die skrywer se werk in die algemeen, en haar kritiese opvatting oor Phillips se skryfstyl om iets aan die lig te bring wat spesifiek tot hierdie boek is – die invloed van die Russiese kultuur en politiek, en hoe dit uitspeel in die verhaal en vertelstyl.

Steinmair verskaf interessante persoonlike inligting oor die skrywer wat relevant is aangesien die skrywer ’n karakter in die boek is, en ook ’n sinvolle aanloop skep tot ’n beskrywing van die verhaalgegewe.

Haar opsomming verklap nie te veel nie, en is nooit vervelig nie, omdat die taal waarin dit verpak word so beweeglik en meesleurend is. Steinmair se aanhalings uit die boek is baie effektiewe lusmakers, en haar menings oor die boek word met flair uitgedruk.

Die resensent huiwer nie om bietjie met haarself ook te spot nie – sy identifiseer immers speels as een van die pisfeministe wat Phillips in die boek uitwys. Sy noem Phillips onnabootsbaar, maar werk deurentyd in haar resensie met subtiele nabootsings.

Hier teen die einde is Steinmair weer, soos Phillips, self teenwoordig, saam met haar tantes se sêgoed oor liefde en kerrieaartappels. Dié laat lê sy net daar en stoom, en laat die interpretasie aan die leser oor. In haar verfrissende konkoksie van ’n resensie noem sy die boek ’n verfrissende konkoksie, en dis enduit ’n vreugde om só saam met Steinmair oor oneindigheid na te dink.

BIBI SLIPPERS