kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar 2018 (Langer resensie)

Ronel Foster se resensie van Fourie Botha se bundel Krap uit die see is elke skrywer se droom. Dit getuig van deeglikheid, diepte en deurdagtheid. Die resensie verskyn op 11 Desember 2017 op LitNet, en ontgin die aanlyn platform se potensiaal vir langer boekbesprekings, wat veral ruimte skep vir interessante en stimulerende kontekstualisering – iets wat dikwels nie in korter resensies moontlik is nie.

Terwyl korter resensies geskryf moet word soos die kraai vlieg – kortste pad tot by die einde – kan Foster te danke aan die langer formaat bekostig om haar resensie te begin “soos die krap stap” – ’n skuins weg na die boek via ’n bespreking van die invloed van Henry Miller op Botha se werk. Dis verfrissend om hierdie soort kreatiewe vormgewing in ’n resensie te sien, veral omdat dit die inhoud van die resensie dien. Die aanhaling uit Miller se boek The Tropic of Capricorn en die verbande wat daar met Botha se bundel getrek word, bied aan die leser ’n sleutel wat nuwe betekenislae kan help ontsluit.

Verder gebruik Foster ook aanhalings uit onderhoude met Botha as toeligting tot die krapsimboliek wat sy so verhelderend vir die leser uitpak. Foster se menings bestaan nie in afsondering nie, maar word deur middel van hierdie aanhalings binne die literêre landskap geposisioneer, en daardeur verryk. Die gedigte wat sy in geheel aanhaal, is goeie keuses om die leser ’n verteenwoordigende voorsmaak van die gedigte in die bundel te gee, maar bied ook ryke stof vir interpretasie en bespreking.

Die relevante en insiggewende verwysings na plaaslike en internasionale skrywers soos Wilma Stockenström en Margaret Atwood se eie krapgedigte verleen gesag aan Foster se bepreking: dis duidelik ’n resensent met baie kennis en ’n breë verwysingsraamwerk. Die kennis word nie vertonerig uitgestal nie, maar eerder suksesvol aangewend om die leser se eie leeservaring te verdiep en sy of haar aan te moedig om wyer te lees.

Foster onderskat nie die leser nie: Haar resensie verskaf heelwat wegspringpunte wat die leser kan benut om self die bundel te benader, en genoeg inligting en insig om die leser bemagtig te laat voel. Daar is volop agtergrondinligting oor die skrywer se vorige publikasies wat moeiteloos by die bespreking betrek word, en wat tot insigte oor die boek onder bespreking lei en nie net terloopshede bly nie. Foster se resensie is meer as ’n bolangse boekbespreking: dis ook ’n besinning oor die aard van die digkuns wat vir die leser wys hoe ’n boek jou kan help om die wyer wêreld te bekyk en te begryp.

BIBI SLIPPERS