kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar 2018 (Fiksie)

Charl-Pierre Naudé se resensie getitled “Jong digter ‘verskalk’ haar leser behoorlik”, wat op 24 Julie 2017 in die Afrikaanse dagblaaie verskyn het, staan veral op twee vlakke uit bo ander resensies in die fiksiekategorie.

Eerstens is daar die ingeligte en gemotiveerde oordeel en opbouende kritiek, waarvan soveel ander resensente wegskram. In sy bespreking van die jong digter Jolyn Phillips se debuut radbraak wys Naudé sonder snedigheid tekortkominge uit, noem ook spesifieke gedigte wat volgens hom bo ander uittroon, en verwys na meer algemene sterk punte. Dit is beide verhelderend vir die leser en ’n nuttige verwysingspunt vir ’n skrywer van wie daar verdere werk verwag word, en wat die kritiek en lof moontlik sal kan gebruik om redaksionele besluite oor volgende tekste te help maak. Die oordeel en kritiek is verpak binne ’n insiggewende bespreking van die boek se tematiek en aanslag, en verskaf ook konteks rakende die tradisie waarbinne die digter werk, en aanhalings en voorbeelde wat Naudé se opmerkings en oordele belig.

Tweedens is dit ’n resensie wat eenvoudig verskriklik goed geskryf is: Die reikwydte en diepte van die woordeskat doen die bundel gestand sonder om die leser van die resensie te vervreem of af te skrik, en die bespreking toon diepgang en erns, sonder om ooit saai of té hoogdrawend te raak. Voorbeelde van die vars en opvallende taalgebruik wat Naudé aanwend is frases soos: “Die taal as ryklik herskape slagoffer van haar eie grille”, “’n Belittekende belofte” en “’n Onaf ster”.

Die inhoud van die bundel word op ’n bondige wyse opgesom, waarna Naudé ’n duidelike argument oor die taalverbrokkeling in die bundel opbou, wat tot aan die einde deurgevoer word en op oortuigende wyse afgesluit word.

Sy bespreking kring verder op interessante maniere uit van die teks: daar is uitsprake oor die aard van Afrikaans as taal, insigte oor taal- en identiteitspolitiek, asook ’n vergelyking met ’n relevante gedig uit die wêreldletterkunde en ’n uitdaging vir die leser om sy of haar eie woordeskat uit te brei. Al hierdie dinge help om die boek in die breër konteks van kultuur te posisioneer, en wakker debat en nuuskierigheid aan.

As voorbeeld van waarom hierdie ’n wenresensie is, die volgende sin: “Phillips puur haar vormgewing uit distorsie; ’n mens kan byna hoor hoe die taal se takkies in haar sinne gebreek word.” Sulke skryfwerk praat vanself.

BIBI SLIPPERS