kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar 2018 Commendatio: (Niefiksie)

Jean Meiring het die afgelope jare in ’n boekresensent ontpop na wie se resensies lesers uitsien, en een waarop boekeredakteurs duidelik kan staatmaak. Byna al die resensies wat hy vanjaar ingeskryf het, in beide die fiksie- en niefiksiekategorie, was onder die uitblinkers, maar één hiervan het hy met soveel sorg blinkgevryf dat die keurders dit eenvoudig nie kon ignoreer nie.

Sy resensie getiteld “Skitterende kleinood van ’n vol lewe geleef”, wat op 27 November 2017 in die Afrikaanse dagblaaie verskyn, is ’n bespreking van Elsa Joubert se boek Spertyd.

Die resensie begin op ’n poëtiese noot, met Meiring wat die leser voorberei op die toon van die boek, terwyl hy ook ’n gepaste atmosfeer skep. Daarna plaas hy die boek in konteks en bied ’n relevante verwysingsraamwerk deur ’n bondige vergelyking met ’n soortgelyke werk van Karel Schoeman, wat ook duidelik uitwys hoe die twee werke in aanslag van mekaar verskil.

Hy plaas verder ook die boek in konteks van Joubert se eie voorafgaande publikasies, en takseer dié een as “stiller” as haar ander outobiografiese tekste. Dit blyk dat Meiring hierdie “stiller” kwaliteit van die boek ook soms in sy resensie probeer eggo. Dié wat fyn luister (en lees) sal in die resensie uitstekende skryfwerk herken wat nie om aandag skreeu nie, maar eerder mymer en kabbel en kriek.

Die aanhalings uit die boek word effektief aangewend en soomloos met die resensie verweef, en die oorvertelling van die inhoud word uitgebou tot insig en interpretasie, en steek nie vas by blote opsomming nie.

Meiring span sy humorsin in wanneer hy sê dat Joubert die genre van kosskoolverhale op sy kop keer, en na Spertyd verwys as Ouspan op Maasdorp. Dis dié soort oorspronklike insig wat ’n resensie ’n kompeterende voorsprong gee, en as die resensent dan boonop sy mening in klankryke taal verpak wat so mooi by sy onderwerp aansluit, dring hy basies so stilweg daarop aan om as wenner bekroon te word.

In sy slotsin sê Meiring Joubert se boek wys ons dat daar tog nog flitsies son op die afdraand van die dag is. Hierdie resensie is van begin tot einde ’n verfrissende sonflits en ’n waardige wenner van vanjaar se prys vir niefiksie.

BIBI SLIPPERS