KYKNET-RAPPORT BOEKPRYSE: 2018-KORTLYSTE IS HIER!

Dubbelbenoeming vir SJ Naudé se Die derde spoel

Die 2018-benoemdes vir die kykNET-Rapportpryse, wat die Jan Rabie-Rapportprys vir nuwe werk insluit, is pas bekend gemaak. Dit is die grootste en rykste jaarlikse boekpryse in Afrikaans.

Met sy tweede roman, Die derde spoel, bevind die skrywer SJ Naudé hom op die kortlys vir twee pryse – die kykNET-Rapportprys vir romans sowel as die Jan Rabie-Rapportprys vir ’n debuut- of tweede fiksiewerk (romans, novelles en kortverhale).

Die prysgeld is vanjaar verhoog en beloop nou R250 000 elk vir die kykNET-Rapportprys vir romans en niefiksie, R125 000 vir die kykNET-Rapport-filmprys, en R125 000 vir die Jan Rabie-Rapportprys. “Die verhoogde prysgeld gee welverdiende erkenning aan skrywers in Afrikaans wat die pols van die tydvak meet, dit registreer, en die leser die woorde gee om eie ervarings daaraan te meet en te verstaan,” sê die sameroeper van die kykNET-Rapportpryse, Hettie Scholtz.

Die kortlyste vir 2018 is, in alfabetiese volgorde:

KYKNET-RAPPORTPRYS: FIKSIE (ROMANS)

Die derde spoel, SJ Naudé (Umuzi)

Die wêreld van Charlie Oeng, Etienne van Heerden (Tafelberg)

Groen soos die hemel daarbo, Eben Venter (Tafelberg)

KYKNET-RAPPORTPRYS: NIEFIKSIE

Spertyd, Elsa Joubert (Tafelberg)

Geloof alleen, André Pretorius (Naledi)

Op pad: ’n Reisjoernaal, Dana Snyman (Tafelberg)

KYKNET-RAPPORTPRYS: FILM

Blou is nie ’n kleur nie, Carin Krahtz (Tafelberg)

Die laksman se dogter, Gerda Taljaard (Penguin)

Kamikaze, Rudie van Rensburg (Queillerie)

JAN RABIE-RAPPORTPRYS: ROMANS, NOVELLES EN KORTVERHALE

As in die mond, Nicole Jaekel Strauss (Queillerie)
Die derde spoel, SJ Naudé (Umuzi)
Rooi haring, Schalk Schoombie (Human & Rousseau)

Die kortlyste vir die kykNET-Rapportpryse vir die beste Afrikaanse resensie oor Afrikaanse fiksie en niefiksie word binnekort uitgereik.

Die pryswenners word op Saterdagaand 22 September 2018 in Kaapstad bekend gemaak.

KOMMENTAAR OOR INSKRYWINGS
Inskrywings vir die kykNET-Rapportprys vir romans het getuig van waagmoed, beleë vakmanskap en besondere kreatiwiteit, sê Hettie Scholtz. “Die genre van misdaadfiksie groei eksponensieel en is in menige geval geskryf met groot flair, soos Chris Karsten se Koms van die motman, Die laksman se dogter en Rooi haring, en ’n aansienlike mate van tekstuur. Twee eksperimente met genre het opgeval – Carina Stander se  fantasiewêreld in Die bergengel, wat raakpunte met die kontemporêre realiteit vertoon, en Francois Loots se roman Die diepblou see waarin die realistiese verhaal van die geniale Jan Hofmeyr vermeng word met mitologiese elemente. Kleinboer verras op sy beurt met ’n byna hipnotiese vertelling van sy lotto-speletjie met die lewe in Hierdie huis, terwyl Dolf van Niekerk met Kroniek van turf en Cas Wepener met Johanna nader beweeg aan meer aktuele temas soos grondeise en seksuele geweld teen vroue.”

Die niefiksie-inskrywings bevat oorwegend die name van gevestigde skrywers met die uitsondering van Hemelbesem (Simon Witbooi), wat verras met die toevoeging van “’n heerlike proesel Afrikaaps” in sy debuut, God praat Afrikaans, sê Scholtz. “Wat tendense betref, is dit opvallend dat reis sentraal staan met die fisieke reis wat dikwels die aanloop vorm tot ’n reis na binne. ’n Beduidende aantal skrywers loop die stroewe onderwerp van ouderdom en dood trompop. Elsa Joubert doen dit delikaat in Spertyd, Karel Schoeman ontstellend in Die slot van die dag, Kobus Anthonissen christelik in Dansend met die lewe, Anton van Niekerk filosofies in Die dood en die sin van die lewe, en Cas Wepener doen dit na aanleiding van Karel Schoeman se kreatiewe werk in Die reis gaan inwaarts. Daar is steeds twee skote uit die Boereoorlog – Jan Smuts: Van boerseun tot wêreldverhoog met Kobus du Pisani as hoofredakteur en die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke se Die Anglo-Boereoorlog in 100 objekte – wat vermelding verdien, asook samesteller Heilna du Plooy se waardevolle brieweboek Gespreksgenoot, en Oorkant jou, die onderhoudende “verhale uit die binnekamer” deur die gewilde skrywer en psigoterapeut Juliana Coetzer.

Die besonder uiteenlopende aard van dié inskrywings het die keurders te staan gebring voor die uitdaging om ’n balans te vind tussen leesbaarheid én indringendheid, aktualiteit én durendheid, vakmanskap én kreatiewe vindingrykheid, sê Scholtz. “Dit was geen maklike taak nie!”

Soos gewoonlik het die keurders van die filmprys ’n ryk keuse gehad met besonder sterk temas en sprankelende dialoog wat die inskrywings nogeens opgelewer het.

Die inskrywings vir die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede fiksiewerke was ewe wydlopend en uitdagend, sê keurder Kerneels Breytenbach. “Benewens die titels op die kortlys het die inskrywings ’n werk ingesluit wat Frans Marx al in 1993 tydens Wits se Winterforum belowe het: Spieëlbeeld. Aan die uitdagende kant was daar Naomi Meyer se indrukwekkende spanningsroman Web oor ’n egpaar met huweliksprobleme, wat dan gekonfronteer word met die probleem van ’n kind wat wegraak. Ewe indrukwekkend was Pelgrimshoop, die roman waarmee Ronel Nel ’n opwindende nuwe skrywerskap aangekondig het. Sommige van die skrywers is meer bekend, soos Cas Wepener (Johanna) en Carina Stander (Die bergengel), maar die beoordelaars het ook kennis gemaak met nuwe name en hul werke, waardeur die groeikrag van die Afrikaanse letterkunde beklemtoon word: Rika Cloete, Lloyd Zandberg, Juanita Aggenbag en Coreen Erasmus-Bezuidenhout.”

KEURDERS

Die keurders vir die kykNET-Rapportprys vir fiksie was prof. Louise Viljoen van die US, die rolprentvervaardiger Gerrit Schoonhoven, die joernalis en koördineerder van die US Woordfees se boekeprogram Elmari Rautenbach en prof. Steward van Wyk (UWK). By niefiksie het prof. Andries Bezuidenhout (Universiteit van Fort Hare), die skrywer Valda Jansen, prof. Herman Wasserman (UK) en die rolprentvervaardiger Hermann Binge die stiplees gedoen en Tina Kruger van kykNET het die geledere van filmkeurders Gerrit Schoonhoven en Herman Binge versterk. Die keurders vir die Jan Rabie-Rapportprys was die ouduitgewer en skrywer Kerneels Breytenbach, dr. Marni Bonthuys van UWK en Marius Swart van die US.

Vir meer inligting oor die kykNET-Rapport Boekpryse kontak Hettie Scholtz by scholtz5@mweb.co.za / 084 583 0272 of besoek die webwerf by www.kyknetrapportpryse.co.za.

Vir meer inligting oor die Jan Rabie-Rapportprys kontak Anita van Zyl by anita@vanzylpr.co.za / 083 709 6677.