Ek wens, ek wens – Zirk van den Berg – Fiksie 2020: Commendatio

Ek wens, ek wens – Zirk van den Berg

Zirk van den Berg se Ek wens, ek wens het die tydloosheid en betowering van ’n moderne sprokie. Enersyds is dit herkenbaar eietyds; andersyds byna argetipies in die verkenning van oervrese en -begeertes.

Seb Walters, ’n middeljarige lykbesorger, se lewe verloop met dodelike reëlmaat: sy werk is voorspelbaar, sy huwelik saai en sy verhouding met sy tienerkinders stram. Al wens hy soms hy kan “die grond van sy bleek wortels afskud” en soos ’n “distel op die wind” sweef, voel hy meestal soos ’n graf-engel met vlerke van klip. Op ’n dag verander sy lewe handomkeer wanneer ’n agtjarige seun saam met sy ma by White Lily Funerals instap, omdat die terminaal siek kind presies wil weet wat met hom gaan gebeur wanneer hy sterf. Terwyl Seb vir Gawie (Gabriël) toelaat om in een van die doodskiste te lê, vertel die seun hom van die sprokie oor ’n man wat drie wense kon wens. Dié verhaal, en die buitengewone ontmoeting waarvan dit deel vorm, maak ’n onuitwisbare indruk op Seb en dwing hom om met nuwe oë na sy lewe buite die lykshuis te kyk.

Soos die Rubik-kubus op die voorblad, pas alles in dié roman naatloos inmekaar. Die fyn afgewerkte eindproduk spreek van deeglike navorsing, slim beplanning en taalvernuf. Uiteindelik word gróót vrae binne die omlysting van ’n beskeie lewe gevra, terwyl die weersinwekkende op verrassende wyse lêplek langs die wonderbaarlike kry. Sonder ’n sweem sentimentaliteit vuur Van den Berg se vertelling die verbeelding aan en nooi dit die leser uit om, saam met Seb, nuwe bestaansmoontlikhede te oorweeg.

In taalgebruik vergroot Ek wens, ek wens die reikwydte van Afrikaans deurdat dit die amper vergete betekenisse van woorde soos onskuld, eerlikheid, welwillendheid, egtheid en hoop herontgin. In dié opsig sluit dit aan by die sogenaamde “nuwe opregtheid” waarvan daar wêreldwyd sprake is en waarin daar op doelbewuste, maar ingeligte, wyse wegbeweeg word van postmoderne afstandelikheid, ironie en sinisme.

Ek wens, ek wens is ’n boek wat die leser oplaas losruk “van hierdie aardgebonde verdomde lot” en die hoop laat vlam dat wense tóg waar kan word. Dit is die perfekte teenmiddel teen die Weltschmerz wat tans ervaar word en ’n waardige wenner van die kykNET-Rapportboekprys vir 2020.

Prof. Thys Human, Noordwes-Universiteit