Ek wens, ek wens – Zirk van den Berg – Film 2020

Film: Commendatio 2020

Ek wens, ek wens – Zirk van den Berg

In ’n era van die “quick fix” en Twitter-nuus, Insta influencers en groot gebare staan ’n onpretensieuse storie uit in al sy gewoonheid.

Seb Walters is ’n begrafnisondernemer by die afgeleefde White Lily Funerals. Sy lewe is eentonig en roetine-gerig – grys, in alle opsigte. Tuis word sy teenwoordigheid slegs geduld deur sy vrou en twee tienerkinders; by die werk vind hy tog ’n mate van vrede in die prosesse van lykbesorging wat hy nougeset en met respek uitvoer. Vir meer durf hy nie wens nie.

Of mag hy?

Op ’n dag is daar ’n ingryping wanneer ’n sterwende seuntjie hom by Seb aanmeld met ’n ongewone versoek: Hy wil solank “voorberei” vir sy komende dood deur in ’n kis te lê.

Seb se lewe verander onherroeplik wanneer hy die skraal kind in die doodskis met sy wit satynvoering intel. Die seuntjie met die engelnaam, Gawie, vertel hom van die sprokie van die drie wense en sonder dat Seb dit besef, kantel sy eie saai bestaan op hierdie oomblik in dié van ’n
sprokie …

Rolprentmakers kan kwalik vir beter storiemateriaal vra. Zirk van den Berg se Ek wens, ek wens is geskryf asof dit van meet af op die visuele vertelmedium gemik was.

Afgeteken teen loodgrys reënwolke, sy skoene met modder bespat, staan Seb teen ’n klipengel aangeleun en speel met ’n Rubik-kubus – ’n flits kleur teen die grys. ’n Ent van hom drom swart sambrele saam om ’n oop graf – die nuwe generasie tree aan vir die dood – wanneer ’n enkele geel sambreel oopvou en ’n smiley face ontplooi …

Net soos Seb die dooies se organe sorgvuldig terugpak, die liggame met vloeistof vul en die gelaatskleur vir oulaas met ’n bietjie grimering tooi, net so sorgvuldig pak Seb sy eie herstelproses aan nadat hy met ’n skok besef sy eerste twee lukrake wense het waar geword.

Vir die Afrikaanse rolprentganger is die alledaagse werksaamhede in ’n lykshuis verrassende en ongewone kykstof – ’n visuele simbool waarmee hulle maklik sal kan identifiseer. Net so gemaklik en boeiend is die dialoog, wat soomloos tot draaiboek verwerk kan word. Hoewel die tema hom ophou met die donker dinge van die lewe en die storie by tye hartseer is, is dit ook hoopvol en soms selfs verrassend snaaks, wat die kyker geboei hou en lok om emosioneel betrokke te raak by Seb, die underdog, se reis.

Vir filmmakers skep die twee hoofkarakters en drie wense boonop die moontlikheid om binne ’n moderne sprokiegenre met ’n gehoor te kommunikeer – een wat juis nié deur toweragtige elemente, donderslae of bonatuurlike gebeure gekenmerk word nie, maar eerder deur ’n gewone man in ’n klein bestaan wat voor ’n kernbesluit te staan kom: Waarvoor wens jy as jy net één wens het?

Eers dan word ’n reeks gebeure in werking gestel wat, soos die kleure van die Rubik-kubus, een vir een in plek klik om uiteindelik finaal tot rus te kom by verwondering. En die geleentheid om in ’n wêreld vuisvoos ná ’n pandemie ’n film te maak met die boodskap dat ons regtig in ’n gelukkige einde met meer genade kan glo.

Zirk van den Berg dra Ek wens, ek wens aan Ryk Hattingh op. Ek wens hy was nog met ons. Hy sou hierdie roman se eenvoud besing het.

Gerrit Schoonhoven, regisseur