Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé (JAN RABIE-RAPPORTPRYS 2019)

COMMENDATIO: JAN RABIE-RAPPORTPRYS 2019

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé (Tafelberg)

“As enigiemand sê hy of sy kan dink oor kwantumfisika sonder om duiselig te raak, wys dit jou hy of sy het nog geen snars daarvan begryp nie,” het die kwantumfisikus en Nobelpryswenner Niels Bohr gesê. Charl-Pierre Naudé se digterlike, akrobatiese eerstelingroman, Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey, slaan die leser eweneens dronk. Die implikasies van die teorie dat talle kwantumwerklikhede gelyktydig bestaan, word as ryk metafoor ontgin in ’n roman waarbinne parallelle verhaalmoontlikhede in sogenaamde “ewewêrelde” afspeel, maar soms met onthutsende gevolge oorvleuel en bots om karakters met verbysterende alternatiewe te konfronteer.

Die vreemde gebeure in die laat 70’s en vroeë tagtigerjare op die Lyksovlakte, ’n verbeelde Noord-Kaapse geweste, wat Naudé se onbetroubare joernalis-verteller Hermanus Verdomp kastig in Dirkie Verwey opgeteken het, is ’n speelse tragikomedie wat die absurditeit van daardie apartheidsjare bytend vasvang. Naudé se roman is egter benewens magies realistiese satire, kwasi-speurverhaal en vernuftige metafiksie ook ’n boek wat die leser gaandeweg oortuig dat die idee van een kenbare werklikheid verregaande is – veral in ’n land waar soveel mense as ’t ware in parallelle werklikhede rakelings aan mekaar verbyleef. Dis ’n boek wat wys hoe die verbeelding toor met taal en taal met die verbeelde wêreld, waarin geskiedenis deur fiksie spoel soos die lewe deur drome en mense en andersom.

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey is ’n duiselingwekkende bevestiging van waartoe fiksie in staat is en ’n roman wat ’n sterk saak daarvoor uitmaak dat die wetenskap ’n geloofskwessie is en die werklikheid ’n klomp stories. Dis ’n meer as waardige wenner van die Jan Rabie-Rapportprys 2019.

DANIE MARAIS