Die Laksman se dogter, Gerda Taljaard (2018 Filmprys)

Dit is maklik om opgewonde te raak oor die wenroman van vanjaar se filmprys omdat die sterk literêre meriete en fees van visuele moontlikhede in die verhaal ’n filmmaker se droom is. Daarby het die gegewe van disfunksionele families ’n volwaardige kategorie van films geword as gevolg van die gewildheid daarvan by gehore oor die wêreld heen. Die laksman se dogter – wat ’n titel! – pas perfek in die kategorie van “huishoudelike noir”: ’n boeiende sielkundige riller wat in ’n eksentrieke familie afspeel en die kyker by komplekse interpersoonlike verhoudings betrek.

Films in dié kategorie ontgin heelwat temas wat ook in ons wenroman voorkom. In Sidney Lumet se Long Day’s Journey into Night gebaseer op die toneelstuk van Eugene O’Neill, speel die musiek van André Previn byvoorbeeld ’n belangrike rol en word dit, soos in Gerda Taljaard se verhaal, deel van die narratief. In Aronofsky se Black Swan met Natalie Portman, is die hoofkarakter ’n danser. In Die laksman se dogter is sy ’n rocksanger. Stel u voor ’n klankbaan met moderne kontemporêre Afrikaanse musiek deur Die Antwoord en Karen Zoid met ’n hele paar ander Afrikaanse rockers ingegooi. Magic!

’n Verdere bewys van die kommersiële sukses van hierdie kategorie by die loket is  American Beauty van Sam Mendes met Annette Benning en die gediskrediteerde Kevin Spacey, wat met ’n klein begroting gemaak is en R356,3 miljoen dollar by die loket verdien het. So ook het Little Miss Sunshine met Steve Carell en Toni Collette wat in slegs 30 dae vir ’n skamele agt miljoen dollar gemaak is, meer as R100 miljoen dollar by die loket verdien. I put it to you: Die pas afgelope Silwerskermfees wys onse mense het die talent om ook groot dinge met klein begrotings te vermag.

Wat Taljaard se roman verder uitlig, is die geloofwaardige en gekonsentreerde dialoog  – belangrik vir die filmmedium  –  en hoe die fisiese omgewing, die huis in Pretoria,  waar ’n mens juis geborge moet voel, die slagveld word waarop manipulasie, bedreiging en vervreemding afspeel. Voeg daarby die interessante, veelvlakkige karakters en jy het ’n volbloed film, ’n onvoorspelbare reis deur ’n vrou se verlede waarin verskeie donker temas soos skuld, vergifnis, verslawing en die dood van ’n dogter voorkom.

Dit mag swaartillend klink, maar soos met die voorbeelde van ander buitelandse films, laat die hoofkarakter, ene Rosaria, mens nooit toe om jou sin vir humor te verloor nie. Die humor is wel donker, maar dit word met ’n verrassend sobere en ligte hand hanteer, en die verhaal is nie sonder hoop op ’n beter toekoms nie.

Die laksman se dogter is ’n boek wat jou in die ribbes skop en jou bybly lank nadat jy dit toegemaak het. Ek vermoed die film gaan dieselfde regkry.

HERMAN BINGE