Die derde spoel, SJ Naudé (2018 Fiksie wenner)

SJ Naudé se roman Die derde spoel is ’n teks wat aanvanklik lyk asof dit die bekende pad van ’n jongman se verset teen die Afrikanernasionalistiese patriargie gaan inslaan, maar dan met so ’n verrassende, energieke en gelade invulling van daardie gegewe vorendag kom dat dit die leser heeltemal oorrompel.

Die hoofkarakter Etienne Nieuwenhuys verlaat Suid-Afrika in 1986 om te ontvlug van diensplig en maak homself op radikale wyse los van sy familie en van Suid-Afrika. Die roman se drie afdelings vertel hoedat hy vir hom ’n nuwe bestaan uitkerf in verskillende omgewings, telkens as lid van een van die marginale groepe of subkulture wat in opstand kom teen die heersende waardes van die tyd, veral dié van ’n oorwoekerende kapitalisme.  Die roman speel agtereenvolgens af in Londen tydens die Thatcher-bewind, Berlyn onder die Sowjetregime met daarnaas Wes-Berlyn; en ook Suid-Afrika, Berlyn en Buenos Aires in 1990. Elkeen van hierdie omgewings word in boeiende detail geteken, met ’n fokus op die artistieke uitdrukkings van elke ruimte en ’n eie klankbaan wat verband hou met die feit dat Etienne ’n musikant is. Die spanningslyn in die roman en die samehang tussen die drie dele word bewerkstellig deur ’n speurtog na die verlore film Berliner Chronik, gebaseer op die werk van Walter Benjamin, wat in die vroeë 1930’s in Nazi-Duitsland gemaak is en nou verknoop is met die geskiedenis van Etienne se enigmatiese en ontwykende minnaar Axel.

Die verwysing na Walter Benjamin word op vindingryke wyse uitgewerk in die roman se besinning oor die brutaliteit, geweld en verwoesting vervat in die menslike bestaan. Die roman verskaf egter ook die teëwig hiervoor in die derde afdeling, getitel “Laboratorium”, deur die liefdesverhouding tussen Etienne en Axel te teken as een waarin teerheid die vermoë het om ’n ligpunt in die omringende donker te wees.

Die uitsonderlike ryk tekstuur van die roman, die sorgvuldige aandag aan detail, die wye historiese greep, die goed deurdagte denkstruktuur wat dit onderlê en die presisie van die taalgebruik maak die lees van hierdie roman ’n uitdaging en ’n avontuur.  Dit is ’n roman wat in alle opsigte verdien om bekroon te word met vanjaar se kykNET-Rapportprys vir fiksie.

LOUISE VILJOEN