Die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis (KYKNET-RAPPORTPRYS VIR FIKSIE 2019)

COMMENDATIO: KYKNET-RAPPORTPRYS VIR FIKSIE 2019

 Die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis (Tafelberg)

Lodewyk G. du Plessis (Andries Buys) se Die Dao van Daan van der Walt (2018) is ‘n bedevaart vir leesvermoeides – een van daardie uitsonderlike romans wat ’n mens intellektueel uitdaag, met aktuele vraagstukke konfronteer én uiteindelik ook emosioneel aangryp. Te oordeel aan die literêre pryse en akkolades wat dié roman reeds ingepalm het, wil dit voorkom asof Frederik de Jager se woorde op die agterblad – “Hierdie boek behoort ’n golf deur die Afrikaanse letterkunde te stoot” – inderdaad profeties was. En hééltemal verdiend.

Aan die woord is Daan van der Walt, ’n stoere Dopper en eertydse Kalahari-boer (van die plaas Ystervarkfontein), wat ’n vertigo-aanval kry op besoek aan sy seun in China. Wydsbeen oor ’n bruingevlekte sloot in ’n sementvloer, wankel die pilare wat hom al die jare vir die gemeenskap aanvaarbaar gemaak en aan hom ’n mate van sekuriteit en respek verleen het. Skielik verloor hy letterlik en figuurlik sy ewewig en stort ineen: “[M]y kop is op die Smal Weg na die hemel, my voete op die Breë Dao na die verderf en ek, my balans kwyt, is êrens tussenin” .

Sy seun, Jan-Willem, laai hom af by ’n monnikeklooster, ’n “koorsagtige bedryf van die Boeddha” (aldus Daan), waar meester Yang Ying Sheng hom die innerlike deel van gevegskuns leer ten einde sy liggaamlike en psigiese balans te herwin:

“I’m teaching you tài jí, Da Ni Eu,” sê meester Yang, “to regain your balance: to float like a feather, fly like a leaf, hover like a dragonfly, soar like an eagle.” Hy haal twee keer asem. “I want you suspended between heaven and earth. I want you to defy the pull of gravity.” Sy spierwit wenkbroue wip. Die haartjies krul af oor sy oë wat vas in myne kyk. I am introducing you to the Dao. The Way.”

As onwillige askeet “in die land van die feniks en die draak”),  neem Daan hom voor om soos Herodotus en Augustinus van ouds sy persoonlike geskiedenis krities na te spoor en sy eie Historia neer te skryf. Hierdie “ondersoekende reis deur sy geskiedenis” vertoon die kenmerke van ’n belydenis, omdat Daan stelselmatig sy versuime en vergrype daarin openbaar en oplaas ook vergiffenis vra. Aanvanklik is sy relaas lighartig en moedswillig versluierend, maar soos sy inwyding in Boeddhistiese beginsels ontwikkel en sy psigiese proses van selfontdekking vorder, raak hy eerliker.

Vanuit die staanspoor neem Daan sy oorlede vrou, Magrieta, se raad om doelbewus by die sogenaamde “hedelyn” te hou ter harte. In bekentenisse aan sy lieflinghond, Kaspaas (lankal ingespit aan die voetenent van Daan se reeds uitgepleisterde graf op die plaas), en handgeskrewe briewe aan sy vrou, vertel hy oor sy die verblyf in “Die Tempel van Ewige Vrede” in Longshan, China, maar besin hy ook telkens uitgebreid oor gebeure uit sy Suid-Afrikaanse verlede – hier letterlik ’n “ander land”: skuldbesmet en in geheimenis gehul.

Ten einde vorentoe te kan gaan, moet Daan leer om “agteruit te loop” – voetjie vir voetjie op die spoor van sy (soms ondraaglike) herinneringe. Hierdie verwysings na die verlede is, soos Willie Burger tereg uitwys, nie chronologies of sistematies nie, met die gevolg dat die skrywer op dié wyse vernuftig daarin slaag om afwagting te skep en algaande verrassende onthullings te maak wat ’n mens se aandag bly boei. Voorts gee dit ook daartoe aanleiding dat die beeld wat Daan van homself as “stil en sterk” Van der Walt voorhou, nie heeltemal strook met sy werklike ervarings en gewaarwordinge nie. Die leser raak eerder bewus van ’n oënskynlik onoplosbare spanning by Daan, en ontwikkel gevolglik ook simpatie en medelye met hom.

’n Belangrike deel van Daan se moeisame pad na insig (sy Dao), is om te leer hoe om saam met én deur ander mense te lewe. Hiervoor benodig hy ’n nuwe woordeskat (en hoe pragtig kreatief draai Du Plessis nie die krane in die roman oop nie!) wat hom in staat sal stel om vry te raak van sy innerlike spanning en om uit te druk wat hy nooit met sy gebrekkige Dopper-, volks- en regstaal gesê kon kry nie. Langsamerhand leer hy ’n ander, sagter taal aan wat die stiltes tussen hom en sy vrou, hom en sy seun, hom en sy vriende, oorbrug en ’n ander perspektief op sy wêreld oopmaak. Hy besef dat die weg wat hy tot op hede bewandel het, nié die enigste of selfs die ware weg is nie, en stel hom oop vir nuwe insigte ten opsigte van die sin van die lewe, liefde en die dood.

Deurdat Daan, vanweë sy vader se dood, nooit die geleentheid gekry het om as regsgeleerde te praktiseer nie, maar eerder teen sy sin gedwing is om die familieboerdery oor te neem, speel Die Dao van Daan van der Walt veelseggend in op die patroon van die Afrikaanse plaasroman; ’n bykans oorbekende gegewe wat danksy die China-raam verrassend “vreemd” en “nuut” gemaak word. Selfs nog meer verwikkeld as in die parodiërende plaasromans van Etienne van Heerden en Eben Venter word die verhouding tussen Daan en sy seun, Jan-Willem, hier op genuanseerde en uiteindelik aandoenlike wyse gedissekteer. Die enigsins voorspelbare gegewe van ’n gebiedende vader wat feitlik elke cliché van boer wees, manlikheid en Christenskap beliggaam, en die gay seun wat nie daarin kan óf wil slaag om aan die vereistes van sy vader te voldoen nie, word in dié roman besonder slim op die kop gekeer.

Al speel die aflegging van dinge, die wegwerping van bagasie en die losraak van aardse drange so ’n deurslaggewende rol in Daan se relaas, is Die Dao van Daan van der Walt in die eerste plek ’n lewenswerk: dit asem wysheid en ervaring waaraan ’n leeftyd versamel is; dit gooi byna halsstarrig (maar ook hartgrypend mooi) wal teen verlies; én dit huldig die komplekse verhoudings wat ons ondermaanse staning so kosbaar (en kostelik) maak.

Dit is ’n roman wat ’n onuitwisbare indruk op die leser maak, en in alle opsigte ’n waardige wenner van die kykNET-Rapportprys vir Fiksie in 2019.

THYS HUMAN