Boekresensent van die jaar 2017

NIEFIKSIE

Emile Joubert – “Die afkook van ’n vol lewe vind hier beslag” (oor Wat die hart van vol is deur Peter Veldsman met Elmari Rautenbach, Media24-dagblaaie, 31 Oktober 2016)

Dis maklik om te motiveer waarom Emile Joubert se resensie van Wat die hart van vol is deur Peter Veldsman en Elmari Rautenbach vanjaar die koek gevat het in die niefiksie-kategorie. Asof hy keurig tafel dek skep Joubert konteks vir die leser, sodat selfs diegene wat nie bekend is met Veldsman nie, ’n goeie beeld kry van die wêreld waarbinne die boek en persoonlikheid figureer. Verder posisioneer die lekker lywige inleiding die boek ook binne die kontemporêre koswêreld met sy ooraanbod celebrity-sjefs, kinderkokkies, kosboeke, kookprogramme en ander kulinêre vermaak in verskeie media, en maak dit uit die staanspoor duidelik dat die boek wat geresenseer word vir hom as leser uitstaan bo die geroesemoes.

Die voorbeelde wat hy aanhaal om sy mening oor die boek te motiveer, is goed uitgekies: dit gee ’n uitstekende voorsmakie van wat ’n mens van die boek te wagte kan wees, en daar is net mooi genoeg om te verseker dat die leser van die resensie lus gaan wees vir nóg. Die gemaklike, ongedwonge toon van Joubert se resensie voer jou enduit mee, en die keurders beskryf sy taalgebruik as “vlugvoetig” en “smaaklik”. Die taalgebruik pas verder goed aan by die onderwerp, en die kosbeelde waarmee die resensent sy resensie geur word netjies deurgevoer. In die kombinasie van toon en taalgebruik kan ’n mens die resensent se entoesiasme vir die boek aanvoel, en dit is inderdaad aansteeklik: selfs al is mens nie ’n groot kosmaker of Veldsman-aanhanger nie, is daar genoeg hier om mens nuuskierig te maak, en leeshonger. Hierdie resensie is ’n uitstekende voorbeeld van toeganklikheid, sonder om gehalte prys te gee. Joubert het duidelik self kennis oor en waardering vir kos en dit vind neerslag in die resensie – welgedaan ook aan die boekeredakteur vir ’n goeie pairing van boek en resensent. Die resultaat is goed genoeg vir ’n fynproewer.

FIKSIE

Danie Marais – “Die Kook en Geniet van oneerbiedigheid” (oor Anton Kannemeyer en Conrad Botes se Bitterkomix 17, Media24-dagblaaie, 4 Julie 2016)

Danie Marais se diepgaande kennis oor die onderwerp waaroor hy skryf verhef sy resensie van Bitterkomix 17 tot ’n hoër vlak. Nuwe lesers – diegene wat nie bekend is met Bitterkomix en die werk wat deur die jare in dié comic-tydskrif gepubliseer is nie – word gou op die hoogte gebring met ’n deeglike, bondige terugblik wat inlig en kontekstualiseer sonder om vervelig te raak.

Hier het ons nie net gewoon ’n resensie van ’n teks nie: die resensent bou ’n boeiende storie rondom die fenomeen van (wit) verset, en bied Bitterkomix as gevallestudie aan. Buiten die beoordeling van Bitterkomix word dit ook ’n beskrywing van onlangse politieke en artistieke geskiedenis wat vir die leser waarde toevoeg. Dis ook nie ’n geval van ’n “anonieme” resensent wat “objektiwiteit” probeer voorgee nie: die resensie toon ’n eie visie en mening oor méér as net die boek wat ter sprake is. Daar is ’n opstapeling van feite oor die inhoud en samestelling van hierdie spesifieke uitgawe van die comic-tydskrif wat telkens ook lei na ander aanvullende inligting en verdere konteks.

Daar is werklike diepgang in Marais se beskouiing van Bitterkomix en ’n wye verwysingsveld word by sy bespreking betrek – van die filosoof Slavoj Zizek tot die Poolse digter en Nobelpryswenner Wislawa Szymborska en die akademikus Christi van der Westhuizen – maar die resensie verval nooit in ’n vaal Akademiaans nie. Die liefde, respek en geesdrif waarmee hy oor sy onderwerp skryf sleur die leser mee, sodat selfs diegene wat nie gewoonlik comics lees nie uiteindelik met nuwe oë na die hele genre móét kyk.

Marais se taalgebruik is beeldryk en lewendig, en die leser van die resensie kan hom- of haarself aan sy aanwending van subtiele humor verkneukel sonder om ooit te voel dat iets belaglik gemaak word of afgelag word. Die resensie is ’n skitterende voorbeeld van hoe die gesprek rondom boeke kan uitkring en deel word van die breër diskoers rondom politiek, seksualiteit en identiteit – eintlik enige onderwerp of aktuele kwessie – en lesers bedag kan maak op gebeure en ontwikkelinge in die boekwêreld, maar ook in die breër samelewing.