Die oorlog kom huis toe, Albert Grundlingh en Bill Nasson (2014 Niefiksie wenner)

Uitgewer: Tafelberg

Commendatio, Die Oorlog Kom Huis Toe, deur Albert Grundlingh en Bill Nasson (reds.)

In die dekade en ‘n half sedert die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog het ‘n groot aantal boeke reeds oor hierdie konflik verskyn. Dié oorlog, die Afrikanernasionalisme wat daaruit gespruit het en die nadraai van laasgenoemde in apartheid, lê steeds aan die hart van hedendaagse debatte oor Afrikaanse identiteit. Dit is nie maklik vir ‘n nuwe boek om tussen die vele ander volumes oor hierdie onderwerp uit te staan nie. Albert Grundlingh en Bill Nasson se Die Oorlog Kom Huis Toe maak wel ‘n baie sterk indruk, om verskeie redes:

Eerstens getuig die boek van navorsing van hoogstaande gehalte, gelewer deur ‘n groep gerekende akademiese navorsers, onteengseglik op internasionale standaard.

Tweedens bied die boek ‘n oorspronklike aanslag op die geskiedkundige gebeure wat nuwe insigte by die leser te weeg bring. Die vertrekpunt van die boek is die eeufeesviering van die Vrouemonument, en as sulks val die fokus van meet af aan op rolspelers in die oorlog wat dikwels op die marges bly van manlik-gedomineerde geskiedskrywing en heldhaftige verhale van veldslae. Die navorsing oor die rol van vroue en swart mense in die konsentrasiekampe en die impak van oorlog op die gesinslewe bring die hartseer en verwoesting digterby – tot op die werf, tot binne-in die huis, tot langs die wiegie.

Die Oorlog Kom Huis Toe bied aan die leser die geleentheid om te herbesin oor die betekenis van die oorlog binne ‘n kontemporêre konteks waarin daar opnuut gesoek word na gedeelde ervarings in die verlede om ons hoop te gee op die moontlikheid van samewerking en versoening. Hoewel die navorsing van hoë akademiese gehalte is, word dit in helder Afrikaans aangebied en toeganklik gemaak deur die aantreklike vormgewing en aangrypende visuele materiaal.

Die boek is intellektueel uitdagend en emosioneel ontroerend. Dit is‘n komplekse vertelling van ‘n periode in ons geskiedenis wat plaaslike en buitelandse lesers uitdaag om ons verlede te verstaan in meer geskakeerde maniere as slegs Boer teen Brit of wit teen swart.

Die Oorlog Kom Huistoe is ‘n waardige wenner van die eerste niefiksie-toekenning van die 2014 kykNET-Rapport Boekpryse.

  • Prof Herman Wasserman, Sentrum vir Film- en mediastudies, Universiteit van Kaapstad, namens die beoordelaars

 

 

Wolf Wolf, Eben Venter (2014 Fiksie wenner)

Uitgewer: Tafelberg

Commendatio:  Eben Venter – Wolf, wolf

Eben Venter se Wolf, wolf is ’n sterk en ontstellende roman waarin die verwikkelde verhoudinge tussen ’n groep karakters geplaas word teen die agtergrond van ’n kontemporêre Suid-Afrikaanse stadslandskap.  Die roman se sentrale karakter Mattheüs Duiker is ’n komplekse persoonlikheid:  hy is selfgesentreerd, kompulsief, verwend, naïef en as gevolg daarvan besonder kwesbaar in die verhoudings met sy vader Benjamin, sy minnaar Jack en die Kongolese vlugteling Emil Youlou wat vir hom werk in sy kitskosonderneming.

Die roman is ’n indringende ondersoek na die sentrale karakter se interaksie met die verskillende persone in sy lewe, veral die verhouding met sy vader vir wie hy versorg op sy sterfbed en op wie se uiteindelike aanvaarding hy as gay man hoop.  Alhoewel dit aanvanklik mag lyk asof die roman afstuur op ’n positiewe en versoenende einde tussen vader en seun, blyk dit ’n illusie te wees.  Die resultaat van Benjamin se finale verwerping van sy seun is die snelle afloop tot by ’n uitsiglose slot waarin Mattheüs letterlik alles verloor wat hy gehad het en totaal ontredderd gelaat word.

Op die persoonlike vlak teken die roman iemand wat as gevolg van sy beskermde agtergrond, relatiewe bevoorregting en onttrokkenheid van die werklikheid volkome onvoorbereid is op die realiteite van ’n land waarin sluheid, korrupsie, uitbuiting en bedrog so algemeen is dat die lewe ’n oorlewingstryd geword het.  Tegnologiese innovasie, die internet en sosiale media verwyder Mattheüs, en ook Jack, nog verder van die werklikheid en neem hulle ’n vervreemdende hiperrealiteit in eerder as om hulle toe te rus vir uitdagings waarmee hulle gekonfronteer word.  Op kollektiewe vlak is die roman – soos talle ander tekste in die Afrikaanse letterkunde – ’n verkenning van Afrikaners se aansprake op ’n lewe in Afrika en die geldigheid van hulle aannames.  Die “wolf, wolf”-gegewe met sy apokaliptiese assosiasies en intertekstuele geskiedenis in Afrikaans word op ’n besonder veelduidige wyse gebruik om die spanning in die roman op te bou en uiteindelik tot ’n ontnugterende klimaks te bring.  Die onskuldige kinderspeletjie ontaard in ’n tragedie waardeur die verskillende dierefigure in die roman terugwerkend nuwe betekenis kry.

Met hierdie roman toon Venter weer eens dat hy nie huiwer om die kilste moontlike scenarios van hulle leefwêreld vir sy lesers te teken nie.  Net soos Horrelpoot is Wolf, wolf ’n roman waarvan die weerklank nog lank in die Suid-Afrikaanse letterkunde sal bly nagalm. Die roman is ’n waardige wenner van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse!

 

Prof Louise Viljoen namens die beoordelaars.

Nagmusiek, Stephanus Muller (2015 Niefiksie wenner)

Uitgewer: Fourth Wall Books

Commendatio: Herman Wasserman, Universiteit van Kaapstad

‘Alles van waarde is weerloos’, lui die bekende reël deur die Nederlandse digter Lucebert. Hierdie uitsonderlike en by tye verbluffende werk van Stephanus Muller spruit uit ‘n akute bewustheid van hierdie weerloosheid van die kuns, en uit die impuls om nogtans iets van waarde te probeer bewaar –  ten midde van die aanslae daarteen, ten spyte van die onbetroubaarheid van herinnering, en ongeag die broosheid van die skryfdaad self.

In die voorwoord tot die katalogus van Van Wyk se werk (wat volume I van die Nagmusiek drieluik uitmaak), kontekstualiseer Muller die werk as volg:

“Die tradisie waarbinne hy (Van Wyk) gewerk het, is in die Suid-Afrika van die vroeg een en twintigste eeu betreklik onbelangrik. En as die veralgemening gewaag kan word dat die man op straat nie weet wie Arnold van Wyk is of hoe sy musiek klink nie, kan die stelling ook gewaag word dat die opkomende middelklas en intelligentsia in Suid-Afrika in die afsienbare toekoms nie sal belangstel om te vra nie. In die lig hiervan moet ‘n projek soos hierdie een nie net gesien word as ‘n projek wat sensitief staan teenoor die bewaring van ‘n bepaalde aspek van Suid-Afrika se kultuurerfenis nie, en ook nie net as die uitbou van die akademiese infrastruktuur van ‘n bepaalde tersiêre instelling nie. Hierdie projek is inderdaad ‘n daad van kanonisering (…) wat sê: Deur die omvang van hierdie arbeid konstateer ons Arnold van Wyk se belang vir al ons mense, en die unieke bydrae wat hy gelewer het om ons posisie en menswees in Suid-Afrika uit te sê in die medium van klank”.

Hierdie is nie ‘n boek wat waarde heg aan massa-aanhang nie – nóg aan die musiek waaroor geskryf word, nog aan die publikasie self. Dit is eerder een wat weet dat die openbare belang iets anders is as die openbare nuuskierigheid, dat waarde en populariteit nie noodwendig saamhang nie. Desnieteenstaande is Nagmusiek beslis nie ‘n ontoeganklike boek nie. Ten spyte van die enorme argivale werk en die hoogstaande deskundige kennis wat belê is om hierdie kanoniseringsprojek te weeg te bring, is dit allermins ‘n droë akademiese teks, nóg ‘n arrogante een wat die belangrikheid van ‘n bepaalde kunsvorm aan die leser wil afdwing. Inteendeel – daar word juis deurgaans die draak gesteek met elitism en snobisme. Die leser kry te make met ‘n biograaf wat self weerloos voel, wat twyfel aan sy eie vermoëns, huiwerend die pen opneem en bedenkinge het oor die aard van die biografie. Die kunstenaar wat gekanoniseer word is ook allermins ‘n gepantserde esteet. Hy word geteister deur tandpyn, melancholie, eensaamheid.

Dit is dus gepas dat hierdie weerloosheid van beide kunstenaar en biograaf aan ons gebied word in vorm wat opsigself inbuig, as’t ware sigself voortdurend betwyfel. Die biografie word aangebied as fiksie, oftewel ‘n hibried tussen feit en fiksie – wat soms in Engels as ‘faction’ bekendstaan. Metafiksionele elemente soos notas deur die biograaf aan homself, binne die raam van ‘n fiksionele outobiografiese vertelling, word verweef met empiriese gegewens soos dagboekuittreksels, foto’s, en partiture. Hierdie vernuftig postmodernistiese – maar onderhoudende en selfs vermaaklike – wyse waarop Van Wyk se lewe uitgebeeld word, is nie maar ‘n stilistiese truuk nie. Dit dien as voertuig om indringende vrae te opper oor die aard van biografiese geskiedskrywing, die posisie van die biograaf, die konstruksie van akademiese kennis en gesag, en die rol van die kunstenaar in ons samelewing. Net soos die musiek, word die geskiedenis ook voortdurend omring deur stiltes. Soos veral die slothoofstuk suggereer, is daar ‘n dun membraan tussen feit en fiksie, herinnering en vergetelheid, tussen skoonheid en die dood. Waarde en weerloosheid bly met mekaar verweef.

Nagmusiek is ‘n tegniese kragtoer en ‘n hoogs geslaagde eksperimentele waagstuk wat verdien om bekroon te word met die 2015 kykNET-Rapport Boekprys vir nie-fiksie.

Ester, Kerneels Breytenbach (2015 Film wenner)

Uitgewer: Human & Rousseau

Commendatio: Herman Binge, Lion’s Head Productions

Wat meer wil ‘n filmmaker hê as die stomende verhaal van ontluikende liefde tussen ‘n maagdelik-rigiede polisieman van Piet Retief en ‘n verleidelike Duitse spioen van Namibië? Saam op ‘n lotsbepalende treinreis na Kaapstad. Op ‘n lokomotief van die ou SAS&H. In 1946, ‘n jaar van groot politieke intrige in Suid-Afrika.

Kerneels Breytenbach se Ester is ‘n teks wat netjies binne ʼn bewese kommersiële filmgenre val. Dink maar aan Marlene Dietrich in Shanghai Express van 1932, Rex Harrison in Night Train to Munich uit 1940, Tony Curtis, Jack Lemmon en Marilyn Monroe in die onvergeetlike Some Like It Hot uit 1958. Wat nog van Frank Sinatra in Von Ryan’s Express uit die jaar 1965 en die klassieke  Murder on the Orient Express in 1974 met Albert Finney as Hercule Poirot. Ook die meer onlangse Transsiberian in 2008 met Woody Harrelson. Om maar net ‘n paar te noem.

Die eerste vraag met die beoordeling van enige boek vir film is uiteraard hoe prakties verwerkbaar dit is as ʼn rolprentteks. Breytenbach se treinrit bied die rolprentmaker lieflike visuele metafore. Stoom en vuur, swaar wiele wat knars op spore. Afwagting op die spore wat vir kykers voorlê en die spore wat die karakters agterlaat in die verbysnellende werklikheid. ‘n Werklikheid waarvan hulle – en die kyker – vir die duur van die film geïsoleer is.

Daar is oorgenoeg ruimte vir die nodige afwisseling tussen die dialoog-gedrewe interieur tonele en die buite tonele van stasies waar ons (en die storie) kan bene rek. Die moontlikheid van wye skote op ‘n trein wat deur pragtige natuurtonele gly, vanaf die wydsheid van Namibië deur die dorre Karoo na die groene Boland verlos die kyker ook vir ‘n oomblik van die kloustrofobie van klein kompartemente en benoude gangetjies.

Maar nie van die spanning wat opbou oor die naderende onheil wat by die eindbestemming wag nie.

Breytenbach se fyn beskrywings van onvergeetlike karakters en sy slim, gevatte dialoog kan feitlik onveranderd in ‘n draaiboek opgeneem word.

Die verwysings na werklike figure en historiese gebeure skep op hulle beurt die moontlikheid om van filmargiefmateriaal gebruik te maak om die atmosfeer van die periode te vestig. Die nostalgie en die heimwee oor gewilde treinritte in die verlede, met die ghong wat die sittings vir etenstyd aankondig. Die porselein, gestyfde tafeldoeke, silwer eetgerei en watertand geregte op die tafels in die eetsalon – die vrugtemandjies en beddegoedrolle in die kompartement – alles is aantreklike visuele elemente wat ‘n gehoor gaan geniet. So ook die elegansie van die era se modes.

Om nie te praat van die genot wat die musiek uit die vervloë era sal verskaf nie.

Die verhaal van Ester is ook haalbaar binne die finansiële beperkings van ons bedryf. Op  die oomblik is periode treine vir verfilming geredelik beskikbaar as gevolg van die verval van ons spoorweë. Oral staan wrakwerwe vol treine en ʼn paar word selfs kommersieel bedryf. Die rolverdeling vra ook nie vir ʼn onrealistiese aantal akteurs nie aangesien daar nie skares in ʼn trein geakkommodeer hoef te word nie.

Ten slotte is die feit dat Mev Denk Diuts is en nie Afrikaans of Engels kan verstaan nie, in werklikheid ‘n gawe werktuig wat telkens vir dramatiese effek gebruik kan word. Dit is gewoon dat Duitse dialoog in Afrikaans op die skerm in sub-titels verskyn. ‘n Ingryp wat ‘n kontinentale flair aan die projek sal gee en goed moontlik ‘n geleentheid is vir ‘n ko-produksie met ‘n Duitse maatskapy. Daar is juis tans ‘n hele paar Duitse maatskappye wat aktief aan die werk is in Suid-Afrikas – grootliks as gevolg van die swak rand, goedkoop tariewe en goeie klimaat.

Nogmaals geluk aan Kerneels Breytenbach met ‘n fyn gekallibreerde roman! Ester is ʼn waardige wenner van die kykNET-Rapport Boekpryse se filmtoekenning en iets om na uit te sien op die silwerdoek.