Emily Hobhouse: Geliefde Verraaier, Elsabe Brits (2017 Niefiksie Wenner)

Uitgewer: Human & Rousseau

Commendatio: Herman Wasserman

Waarom gryp sekere lewens uit die verlede ‘n mens steeds aan, meer as ‘n honderd jaar later? Waarom klink sekere stemme uit die verlede vandag byna net so helder en dringend as ‘n eeu gelede?

In die geval van Emily Hobhouse en ander soos sy is dit dalk omdat die vrae wat hulle aan hulself en aan ander gevra het, oor tydsgrense heen relevant bly. Vrae soos:

Aan wie en wat is ‘n mens lojaliteit verskuldig?

Wat beteken verraad?

Watter ideale is die moeite werd om nagestreef te word?

Hoe lyk ware medemenslikheid?

Elsabe Brits se biografie oor Emily Hobhouse is nie die eerste oor hierdie figuur nie. Oor die jare heen is daar al heelwat oor hierdie kampvegter vir menseregte en voorstander van pasifisme geskryf. Nietemin spreek Geliefde Verraaier tot die hedendaagse leser nie in die eerste plek danksy nuwe inligting oor veral die persoonlike lewe van hierdie bekende en geliefde historiese figuur nie, maar omdat die verhaal op so ‘n manier aan ons hervertel word dat Hobhouse weer opnuut herkenbaar word.

Pertinent in Brits se biografie is die skakel tussen Hobhouse se werk om die lot van vroue en kinders in die Anglo-Boereoorlog te verbeter en haar humanitêre werk elders, soos haar ondernemings om vrede te probeer bewerkstellig gedurende die Eerste Wereldoorlog en haar selflose diens en fondsinsamelings vir Duitse vroue en weeskinders. Die Hobhouse wat na vore kom uit Brits se vertelling is nie net ‘n vreeslose kampvegter nie, maar ook juis ‘n mens van vlees en bloed – iemand met angste, liefdes, teleurstellings, twyfel. Dalk is dit juis in hierdie broosheid in die aangesig van geweld en politieke vergrype dat die leser by die heldin van Brits se boek oor ‘n eeu heen aanklank vind.

Brits se herbesoek aan bronne oor Hobhouse stel ons in staat om opnuut in hierdie merkwaardige vrou die eienskappe te sien wat aan die kern lê van ons universele menslikheid – die vermoë om te empatiseer met die onderdruktes, op te staan vir reg en geregtigheid selfs teen ‘n hoë persoonlike en politieke prys, om nood en lyding te verlig ongeag waar dit voorkom.

Sy word uitgekryt as verraaier deur diegene wat vlag en vaderland belangriker ag as gelykheid en geregtigheid, maar bly onwrikbaar glo in menswaardigheid wat geslag, party of velkleur te bowe gaan. Haar ywer om die onreg in die konsentrasiekampe aan die kaak te stel spruit uit dieselfde bron as haar vredeswerk in Duitsland in die Eerste Wêreldoorlog,  haar identifikasie met stemreglose vroue en haar besorgdheid oor immigrante, die Indiërvraagstuk en die lot van swart Suid-Afrikaners.  Dit val op uit Brits se vertelling dat Hobhouse hierdie verskillende strydkwessies nie kompartementaliseer nie, maar met mekaar verbind. Sy huiwer nie om dit onder die aandag van magshebbers en invloedrykes te bring nie, selfs al weet sy dat dit teen hul grein ingaan. Slagofferskap was vir haar die basis van solidariteit.

Hoewel Hobhouse se kritiek op die konsentrasiekampe indertyd toegeëien is vir die saak van Afrikanernasionalisme, het sy haarself duidelik uitgespreek teen die onreg wat swart Suid-Afrikaners tydens die oorlog aangedoen is.  Hoewel Brits se boek dit nie ekplisiet aanraak nie, kom Hobhouse se boodskap dermate duidelik uit haar vertelling na vore om ons vandag steeds te laat let op die bitter erfenis van sowel kolonialisme en apartheid wat ons steeds daagliks mee te kampe het. Maar dit noop ons ook om, soos Hobhouse, op te staan wanneer ons hernieude voorbeelde van magsvergrype rondom ons sien. Brits skets Hobhouse as die vergestalting van verset soos dit in die woorde van die Nederlandse digter Remco Campert gedefinieer word: Om aan jouself ‘n vraag te vra, daarmee begin verset – en om dit dan aan ‘n ander te vra.

Brits se boek noop ons om in die Suid-Afrika van vandag weer hierdie kritiese vrae te vra oor menswaardigheid, gelykheid, en weerstand.

Brits bied die vertelling hiervan in kort en bondige hoofstukke aan, in gemaklike trant en met joernalistieke deeglikheid. Haar boek is ‘n intieme en persoonlike dokument wat haar onderwerp sagkens en byna liefderyk hanteer, gerugsteun deur ‘n visuele aanbieding wat, te oordeel aan die boek se sukses tot dusver in die handel, byklank vind.

Vir die toeganklike aanbieding, relevansie vir vandag se politieke kwessies en deeglike herbesinning oor historiese materiaal, is Emily Hobhouse: Geliefde Verraaier die wenner van vanjaar se Kyknet/Rapportprys vir niefiksie.

HERMAN WASSERMAN

Huilboek, Ryk Hattingh (2017 Fiksie wenner)

Uitgewer: Human & Rousseau

Commendatio: Frederik de Jager

Die wenboek van vanjaar se kykNET-Rapportprys vir fiksie is ‘n verhaal wat oor baie dinge gaan. Een daarvan is taal en verlange, hoe die taal Afrikaans self  ‘n uitdrukking word van ‘n verlange wat in sy wese onvervulbaar is, en die boek ‘n liefdesbrief van ver af, sonder adres.

Die onheelbare pyn van ‘n vader wat nie van sy seun gehou het nie is miskien die gravitasiekolk, die black hole in die boek waarheen alles neig, maar van waar geen lig kan kom nie.

Daar is die deurlopende metafore van tuinmaak en fisieke pyn, wat albei tog wel by ‘n troospunt uitkom. Tuinmaak, deur die onmiddellike genoegdoening daarvan maar veral die plant van bome met hul gestadigde ontplooiing en uitgestelde bevrediging. En die kniebesering wat hom in sy heling nie laat aanjaag nie, maar tog na ‘n brose verbetering neig. Dit is net deur groot geduld en eintlik deur lydsaamheid dat die kniebesering verduurbaar met die lewe van  die skrywer geïntegreer kan word – wat ‘n beeld skep vir die modus van lewe wat nodig is om met die ander, groter breuke van die bestaan saam te leef.

Een van die groot deugde van die boek is hoe sy onderwerpe nie direk nie maar sydelings, indirek in die loep gebring word – waarvan een van die vernaamste instansies Outa Toon is. Die verteller eerbiedig die (vir hom) onuitspreeklikheid van hierdie mens se lewe in so ’n mate dat hy dit nie eens deur sy verbeelding wil aantas om vertelling daarvan te maak nie.

Die boek hou sonder uitsondering ‘n fyn balans, ‘n subtiliteit van segging, ‘n beskeie toon en algehele gebrek aan selfkoestering. So word dit nooit swaartillend nie, en die ligte, deernisvolle humor weerhou dit geheel en al van selfbejammering. En ondanks die feit dat emosie nêrens getap word nie, getuig menige resensent en  leser dit is een van die emosioneel aangrypendste boeke wat hulle in ‘n lang tyd gelees het.

Soos Hy kom met die skoenlappers van Valda Jansen, die wenboek van vanjaar se Jan Rabie-Rapportprys, presteer Huilboek deur sy sagkense behandeling van groot dinge, die manier waarop hy persoonlike pyn uiteindelik, sonder politieke grandstandery, vestig in die konteks van ‘n hele land se trauma.

Huilboek is ‘n prestasie in hoe groot kragte in beweging gestel kan word deur ‘n minimum aan woorde en vertoon  – ‘n waardige wenner van vanjaar se kykNET-Rapportprys vir fiksie.

FREDERIK DE JAGER

’n Goeie dag vir boomklim, Jaco Jacobs (2016 Film wenner)

Uitgewer: Lapa

Commendatio: Gerrit Schoonhoven

Reeds in die eerste jaar van hierdie pryse het ’n jeugboek van Jaco Jacobs, Oor ’n motorfiets, ’n zombie-fliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, homself aangemeld as ’n sterk aanspraakmaker op die filmprys.

In daardie jaar het die prys behoort aan ’n volwasse roman, maar in 2015 boor Jacobs ’n aar raak met sy  boek ’n Lekker dag vir boomklim. Hy kry reg om selfs tantes en ooms soos ek weer te laat lees met die hart van ’n kind, oop en ontvanklik vir die groot waarhede en insigte daarin vervat.

Waarhede soos: “Partykeer het ’n mens nodig om raakgesien te word. Daar is te veel bome en diere en mense wat onsigbaar geword het of net verdwyn sonder dat iemand hulle onthou.”

En veral: “… partykeer doen ’n mens in ’n oogwink, sonder om te dink, iets wat jou hele lewe verander.“

Terwyl jy die boek lees, speel die film voor jou af:

Die held Marnus se oudste broer is ’n testosteroongedrewe sportman en hartebreker, sy jonger broer ’n snotkop-entrepreneur wat geld maak deur sy ouboet aan meisies uit te verhuur vir onder andere soenlesse. Briljante idee, behalwe dat die middelkind nog altyd voel asof hy onsigbaar is – en almal se slaaf.

Maar net tot die heldin haar eendag by die voordeur aanmeld, en nie vir soenlesse nie. Leila wil hê Marnus moet ’n petisie teken om die Boom in die middel van haar heelal te red.

Marnus swig voor die uitdaging en bevind homself in ’n avontuur waarin hy nie net ’n groen soldaat word nie, maar ook “raakgesien“ word. Nie net deur sy ouers en broers nie, maar deur ’n ganse gemeenskap bevolk met interessante, kleurryke newekarakters.

Die film eindig waar hy deur Leila raakgesoen word sodat dit voel of sy lyf self boom word. “Asof daar enige oomblik blare en bloeisels uit my lyf te voorskyn kom.“

Die beoogde kyker sal weer eerste liefde beleef, rebellie, konflik met ouers, tiener-angs en vervreemding. Ook ontwaking, dat mens moet en kan opstaan en baklei vir ’n boom, ’n saak waarin jy glo. Ook wanneer om op te hou baklei, “anders raak die baklei partykeer groter as die ding waarteen jy baklei”.

Die dialoog is vars en eenvoudig maar evokatief, die humor net reg, die taal oorspronklik.

Met die filmbedryf in ’n digitale era waar spesiale effekte beskikbaar is, kan ek sien hoe ’n nuwe boom ten slotte uit die afgekapte stomp groei met voëls wat in die takke baljaar – ’n beeld wat ’n gehoor behoorlik duiselig sal laat.

’n Goeie dag vir boomklim verdien om die filmprys te wen. Dis boonop bekostigbaar om te vervaardig, en met dié dat die verhaal ’n paar dae voor Kersfees afspeel, is dit ’n gegewe dat dit ook by die loket sal presteer. Ek sien uit om dit op die silwerdoek te beleef!

 

Donkerstroom, Carel van der Merwe (2016 Niefiksie wenner)

Uitgewer: Human & Rousseau

Commendatio: Dr Irma du Plessis

Die bedrieglik eenvoudige standaardvlag van Carel van der Merwe se Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog versteek die meer verwikkelde, selfs verraderlike lading onder die dek. Van der Merwe skryf ʼn nis oop binne ʼn gewigtige, gevestigde korpus oor hierdie Afrikaanse skrywer wat verrassende nuwe insigte oor Marais oplewer en terselfdertyd wegkalwe aan ander sekerhede, literêr en polities, waarvan die implikasies breër uitkring om met die kontemporêre Suid-Afrikaanse problematiek te resoneer. Dit plaas Donker Stroom in die kader van die “betrokke teks”. Donker stroom se statuur berus op verbeeldingryke en vasberade argiefnavorsing, gerugsteun deur knap en soomlose integrasie van sekondêre literatuur, noukeurige en oorwoë ontledings, en die handhawing van ʼn onderspeelde, geloofwaardige outeurstem.

Van der Merwe slaag daarin om onder die juk van bestaande werk uit te beur sonder geringskatting of onkritiese lof. Onthef van die verantwoordelikheid om ʼn magistrale werk te produseer, skep sy fokus op ʼn onderbeligte greep uit Marais se lewe die ruimte om die narratief maatskaplik en persoonlik dieper in te bed. As ʼn politieke biografie met ʼn psigososiale inslag sal hierdie werk die wyse waarop die bestaande korpus gelees word wesenlik beïnvloed.

Hierbenewens lê Donker stroom se krag in die herbesoek aan die vooroorlogse ZAR tot met Uniewording – ʼn tydvak wat in Benedict Anderson se terminologie gekenmerk word deur die sleutelrol van Afrikaanse drukkapitalisme in die geboorte van die verbeelde gemeenskap van die nasie – maar op ʼn wyse wat konseptueel en temporaal in die tradisie van transnasionalisme aangebied word.

Die jong Marais wat uit Donker stroom na vore kom, is ʼn subjek met ʼn vroeë narsissistiese verwondheid, ʼn verknoopte en gekompromitteerde binnewêreld, en ʼn ongewone dryfveer om maatskaplik-sosiale betrokkenheid en ʼn etiese politieke projek na te streef. Marais se binneworsteling het terselfdertyd ʼn sosiaal-maatskaplike teenhanger wat dit moeilik maak om in die drama wat uitspeel die interne en eksterne breuklyne netjies van mekaar te onderskei. In die verwronge en gekorrupteerde politieke wêreld van die ZAR en in die skadu van Britse Imperialisme word grense verwater en keuses tussen samewerking en inkorporering; kritiese lojaliteit en verraad; binnestander en buitestander; projeksie en herkenning onduidelik. Marais word dus ingeskryf in die representasie-register van die truukster, die bedrieër, die verklikker, die joiner, die impimpi wat telkens in historiografiese en literêre opgawes van die verskeie bevrydingstryde in Suider-Afrika opduik en die skerp onderskeid tussen patriot en verraaier bevraagteken en vertroebel.

Daarby bring Van der Merwe se slotsom oor die oorsprong van Marais se sleutelgedig “Winternag” – as die indrukke van ʼn boere-brandwag in die Suid-Afrikaanse veld wat van ver af kyk na Mapoch se nedersetting wat in ligte laaie staan – ʼn betekenisvolle en onthutsende perspektiefwending te weeg, juis op ‘n moment wanneer vuur weer ʼn hoofrepertorium van politieke stryd in Suid-Afrika is.

Donker stroom is ʼn vlot, fasetryke, en gesofistikeerde teks wat die burgerlike gespreksruimte verruim en dus ʼn waardige wenner van die kykNET-Rapportprys vir 2016.

 

Brandwaterkom, Alexander Strachan (2016 Fiksie wenner)

Uitgewer: Tafelberg

Commendatio: Frederik de Jager

In Brandwaterkom bring Alexander Strachan nie net die Anglo-Boereoorlog en die Grensoorlog opwindend in een verband saam nie, maar bring hy ook oorlogstemas en die strukturele eksperiment van sy hele oeuvre tot ‘n nuwe verdieping. Die beoordelaars was dit eens dat hierdie roman die hoogtepunt van sy werk tot dusver is.

Die Brandwaterkom in die Oos-Vrystaat is terrein wat goed verken is in die Afrikaanse fiksie, veral weens die kapitulering van die onbevoegde generaal Martinus Prinsloo. Strachan ondersoek egter nie in die eerste plek wat daar gebeur het nie, maar neem ‘n lesing van hoe daaroor vertel word.

‘n Geskiedenisstudent, die fiktiewe Esther Emmenes, vestig haar op Fouriesburg om navorsing te doen oor die werklike veldkornet Fanie Vilonel wat hom later by die Engelse magte aangesluit het. Die karakter Bullet uit Strachan se vorige roman, Dwaalpoort, kom soos ‘n dwaalkoeël daar aan om haar met haar navorsing by te staan. Hy is een van die versaakte soldate wat in die jare sewentig na Angola gestuur is. Catharina Venter, weer ‘n historiese figuur en een van die vroue wat in die holkranse van die hoogland geskuil het, probeer ook om Esther se gedagtes te beïnvloed.

Daar ontvou ‘n meervoud verhale van verraad.  Eerstens oorlogsverraad – onder Catharina se famililede, by Vilonel die joiner, maar ook die implisiete verraad van die apartheidsowerheid teenoor die soldate soos Bullet. Verder skryf die fiktiewe Esther huweliksverraad fiktief in by haar historiese relaas oor Vilonel. Uiteindelik is dit verraad wat onderliggend aan die hele boek lê, naamlik die bedrieglike spel van ‘n komplekse stel verhoudings tusssen verteller en teks, en tussen teks en leser.

Een van die dinge wat Strachan onderskei, is hoe hy sy medium – die roman – vervorm tot geskikte draer van wat hy wil sê. Hy gebruik een verteller uit die werklike geskiedenis saam met een wat suiwer fiktief is en nog een (of dalk twee) wat op geheimsinnige wyse in- en uitmekaar skuif. Hy bring ‘n verteller (een met ‘n geskrewe teks in sy sak) uit sy vorige roman by hierdie roman in – een wat ook met biografiese elemente van Strachan self oorvleuel. Hy laat ‘n historiese persoon op ‘n fiktiewe persoon influister oor haar werk oor ‘n ander historiese persoon. Die wedersydse inspeel op mekaar van vertellers en verteldes gebeur dus op oormekaarliggende vlakke in historiese tyd. En wanneer dit gebeur in ‘n konteks van verraad, wanneer vertellers beheer oor hulle karakters verloor, en wanneer historiese relaas onbewustelik oorgaan in fiksie, staan geskiedskrywing self in nuwe lig gekaats en vra ons die vraag: wat is geskiedenis?

Vir die betowering van die raaiselagtige wat hy met soveel presisie, integriteit en gravitas uitgeskryf het, is hierdie skrywer vele male bekroon. Die noukeurigheid van sy skryfwerk, die selfvertroue van aanpak, die opwindende besinning oor die aard van sy medium, sy oortuigende karakters en sy vorentoe stuwende prosa … dit alles maak van Strachan een van ons skerpste en subtielste skrywers en een wat, soos hier, ‘n deksels vernuftige storieverteller is. Een wat in elke opsig verdien om bekroon te word met die kykNET-Rapportprys vir 2016.

Frederik de Jager, keurder

Buys, Willem Anker (2015 Fiksie wenner)

Uitgewer: Kwela

Commendatio: Thys Human, Noordwes-universiteit.

Die besondere belofte wat Willem Anker met sy debuutroman Siegfried getoon het, en die verwagtings wat die bekroning van dié roman en die daaropvolgende toekenning van die Jan Rabie/Marjorie Wallace-skrywersbeurs geskep het, word in Anker se tweede, groots opgesette roman, Buys, volledig vervul.

Soos sy weerbarstige titelkarakter, is Buys ’n roman wat bestaande grense (literêr en andersins) uitdaag én oorskry. Dit is enersyds ’n historiese roman wat ’n omvattende oorsig oor die lewe van die legendariese Coenraad de Buys – Afrikaans se voorste anargis – bied; maar andersyds ook gevestigde aannames oor die (Suid-)Afrikaanse geskiedenis ondermyn aan die hand van die mites en oorvertellinge wat met die loop van tyd rondom De Buys tot stand gekom het. En soos wat Buys uit die stof van argiewe en vergeelde dokumente voor die leser se oog verrys, besin die skrywer terselfdertyd oor die uitdagings en eise wat biografiese skryfwerk in fiksievorm stel.

Deur gebruik te maak van ’n alwetende verteller – “Alom Buys” – wat nie net die begrensinge van tyd en plek oorstyg nie, maar die leser ook direk en dikwels sameswerend aanspreek, slaag Anker meesterlik daarin om die retrospektiewe en prospektiewe registers in sy roman soomloos te integreer, maar ook om die leser op ’n baie spesifieke wyse by die vertelling te betrek; hom/haar te “verblind en te verbyster met [s]y gestaltes, met [s]y alvermoënde blik” (2014:10).

Sonder ’n megalomaniese drang om die hoofkarakter te deurgrond of vas te pen, skets Anker Coenraad de Buys as iemand in wie onoplosbare paradokse saambestaan en enduit om oorheersing veg. Hy is ’n man wat teenkanting as kernbeginsel verteenwoordig. ’n Kalant van vele inkarnasies: “vagebond en boekengek, smokkelaar, (…) jagter, veelwywer, redenaar, plunderaar, patriot, klipneuker.” (2014:10-11) En ten spyte daarvan dat Buys soms so onredelik wind-op, dwarstrekkerig en onapologeties kan wees, wek hy uiteindelik as “dying animal” – broos uitgelewer aan die beperkinge van sy ouerwordende lyf – ook simpatie by die leser.

John Updike het by geleentheid gesê dat ’n grootse roman gekenmerk word deur die totstandkoming van ’n eie taal. En dit is by uitstek die geval in Buys. Sonder oordaad of eksesse bewerkstellig Anker met die oordeelkundigste van woordkeuses subtiele verskuiwings in verteltoon (vanaf dit wat skok en ontstel tot dit wat die hart wring) en roep hy sodoende ’n verbygegane wêreld in volgehoue “Kaaps-Hollands” glashelder voor die oog.

Buys is ’n grensroman wat die hele idee van grense grondig uitdaag. Deeglik gewortel in die historiese aarde van dié klipperige kontinent, groei dit uit tot ’n magistrale eietydse besinning oor identiteit (en spesifiek Afrikaneridentiteit), verset, korrupsie, geweld, magsmisbruik en moraliteit (of dan eerder – en dit is selfs meer ontstellend – ’n gebrek daaraan). Dit is ’n roman wat in elke opsig die kykNET-Rapport Boekprys waardig is.

’n Ander mens, Zirk van den Berg (2014 Film wenner)

Uitgewer: Kwela

Commendatio ‘n Ander mens, Zirk van den Berg

‘n Rolprent is afhanklik van ‘n aangrypende storie en in Zirk van den Berg se verhaal van Daniël Enslin, ‘n vaal mannetjie wat ‘n ander mens moet word om te kan oorleef, is daar genoeg spanning om jou vir 90 minute vasgenael in jou bioskoopstoel te laat sit!

Die eerste belangrike element wat ter sprake kom by die verwerking van ‘n roman na ‘n rolprentteks is die kommersiële en dramatiese potensiaal van die tema. Dit het hierdie roman in ruim mate. Die tema van die dubbele persoonlikheid in ‘n Ander mens wentel om misdadigers wat  besluit om gedurende misdaadverhore staatsgetuies te word. Misdadigers wat vir hulle eie beskerming een lewe verlaat en hulself nou as ’n ander mens in ‘n geheime lewe bevind.

Dit op sigself is nie nuus nie. Die tema van die dubbele persoonlikheid kom reeds voor in rolprente soos Dr Jekyll & Mr Hyde, Straw Dogs, The Bourne Identity en in vele van Alfred Hitchcock se rolprente, maar Zirk van den Berg maak die verskynsel nuut op ‘n ongewone, hoogs interessante manier.

 Die roman is nie net aksiegedrewe nie, maar ook sterk karaktergedrewe. Hoofkarakter Daniël Enslin is ‘n staatsgetuie. Die persoon in beheer van die polisie se getuiebeskermingsprogram is Erica van der Linde. Sy moet sorg dat getuies wie se lewens bedreig word, beveilig word. Sy het die perfekte metode gevind om hierdie opdrag uit te voer. Sy vermoor hulle. Maar in Daniël Enslin se geval loop haar planne skeef. Dit dwing haar om ook self ‘n ander mens te wees.

Deur Van den Berg se pragtige beskrywings van die wye Afrika landskap, vanaf die afgeleë woestyn in Namibië tot by die woelige voorstede in Kaapstad waar drome onderbreek word deur die klank van alarms wat loei en honde wat blaf, lei hy die leser tot in die hart van skrikwekkende gebeure. Met ’n hoofkarakter waaraan die leser geheg raak, een wat dalk nie ‘n superheld is nie, net ‘n gewone mens soos ek en jy, een wat besluit het om te oorleef.

Geluk aan Zirk van den Berg! ‘n Ander mens is ‘n waardige wenner van die kykNET-Rapport Boekpryse se eerste filmtoekenning: Ek sien reeds die loklyn op ‘n rolprentplakkaat: Niemand sal jou kry nie, want ek gaan jou vermoor…”

Herman Binge, namens die beoordelaars