As in die mond, Nicole Jaekel Strauss (Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede prosawerke in Afrikaans 2018)

Die prysbepalings van die Jan Rabie-Rapport-debuutprys is vanjaar verruim om ook tweede prosawerke in te sluit en toevallig is al drie tekste op die kortlys dan ook tweede prosapublikasies. Al drie die kandidate – Die derde spoel van SJ Naudé, die kortverhaalbundel As in die mond van Nicole Jaekel Strauss asook Schalk Schoombie se roman Rooi haring – het verder al met hulle vorige werke prysbekronings of -benoemings verwerf. SJ Naudé het selfs die Jan Rabie-Rapportprys in 2012 gewen met Alfabet van die voëls.

Voorwaar ’n uiteenlopende aanbod! Uiteindelik het die beoordelaars besluit om ’n teks te bekroon wat die sterkste aansluiting vind by die gees van die spesifieke prys – naamlik die bekroning van ’n sterk teks en ’n outeur wat die potensiaal toon om ’n belangrike stem in die Afrikaanse letterkunde te word. Om hierdie rede word die Jan Rabie-Rapportprys vir Afrikaanse debuutfiksie vanjaar aan Nicole Jaekel Strauss toegeken vir die kortverhaalbundel As in die mond.

As in die mond is ’n eenheidsbundel wat vernaamlik die storie vertel van ’n tragiese brand wat ’n familie vernietig. Die ma en dogter, Marika en Suzanne, is die enigste lede van die gesin wat die brand oorleef en ook die sentrale karakters in die bundel. Flenters van hulle stories word deur die leser saamgevoeg om uiteindelik die volledige prentjie te vorm van wat daardie nag gebeur het, asook in die dekades daarná. In hierdie proses kom nog karakters se stories na vore, met die inleidende verhaal wat wel inhoudelik los staan van die res, maar as ’n tematiese sleutel dien met betrekking tot die ontsluiting van die res van die bundel.

Jaekel Strauss se bundel gee ’n blik op verlies en posttraumatiese stres wat die leser bybly lank ná die lees van die verhale. Familieverhoudinge (tussen ouer en kind maar ook grootouer en kleinkind) word verken. Soos in haar debuutkortverhaalbundel Maal is daar ook ’n fokus op buitestanderfigure. Die leser kry telkens die gevoel dat hierdie karakters toeskouers is van lewens wat intens dog emosioneel-verwyderd beleef en geleef word. Jaekel Strauss gee, om Thys Human in ’n resensie van die verhale in Maal aan te haal, ’n byna pointillistiese beskrywing van karakters en ruimtes. Haar sterkpunt blyk haar vermoë te wees om groot gebeure en emosies op ’n onderbeklemtoonde maar steeds presiese en roerende wyse te skets. Die outeur raak dus ’n voyeur, nes haar karakters, wat die skynbaar onbenullige detail weergee as tekens van die vure wat onderliggend smeul.

As in die mond is ’n waardige wenner van vanjaar se Jan Rabie-Rapportprys en hopelik die voorganger van vele uit Jaekel Strauss se pen.

MARNI BONTHUYS