Valda Jansen – Hy kom met die skoenlappers (2017 Jan Rabie-Rapportprys)

Uitgewer: Human & Rousseau

Valda Jansen se debuutroman word op die omslag as ’n elegie aan verlore liefde bestempel. En dit is hierdie merkwaardige boek wel, maar dis ook in verskeie opsigte veel meer. Jansen se subtiele liefdesverhaal gryp terug na Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan, maar gee ’n vars inkleding danksy die tematiese bewussyn van die politieke geskiedenis wat alles onderlê, en die vorms van die liefde wat die verloopte Suid-Afrikaner vandag dwing om die verskeie aangesigte van daardie liefde te aanvaar, asook die berou wat daarmee saamgaan.

Wanneer die ek-verteller probeer sin maak van die redes waarom sy haar Oos-Duitse beminde, Anders, se liefde nooit heeltemal beantwoord het nie, dwaal sy terug deur haar dae as uitruilstudent in Jena, ’n ongelukkige huwelik in Johannesburg en ambivalente ervarings van moederskap tot in haar kinderjare in die Strand. Só word Hy kom met die skoenlappers ’n pynlik intieme en deurtastende verkenning van al die maniere waarop ’n hele lewe soos een byna noodwendig verspeelde kans kan voorkom.

Jansen kleur nie dit wat persoonlik is ooit met groot politieke stellings nie, maar wys hoe onontwarbaar die persoonlike en die politieke in Suid-Afrika verstrengel is. Haar debuut gee ’n aangrypende en ontstemmende blik op ’n bevreemdende, bruin middelklas-ervaring van apartheid; ’n genuanseerde perspektief op ’n benarde posisie wat nog bitter min in Afrikaanse fiksie belig is. “Ek was nie ’n heldin nie ek was nie in die struggle nie ek is nie gemartel nie ek is nie verban nie ek het nie gely vir my land nie ek het nie baklei nie ek is nie in die tronk gegooi nie,” verklaar Jansen, maar deur die loop van haar vertelling word dit duidelik hoe die ek-verteller nogtans deur onwrikbare politieke werklikhede van haar eie land en taal vervreem is.

Hy kom met die skoenlappers is ’n roman wat lees soos ’n memoir oor die gisters wat nooit heeltemal verby kan wees nie. Dit wentel om die maniere waarop die verlede die lewe van die moderne Suid-Afrikaner steeds vorm, wring en temper.

Wyle Jan Rabie sou sekerlik baie bly gewees het om te hoor ’n prys wat sy naam dra, is aan hierdie uitsonderlike debuut van Valda Jansen toegeken.