Donkerstroom, Carel van der Merwe (2016 Niefiksie wenner)

Uitgewer: Human & Rousseau

Commendatio: Dr Irma du Plessis

Die bedrieglik eenvoudige standaardvlag van Carel van der Merwe se Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog versteek die meer verwikkelde, selfs verraderlike lading onder die dek. Van der Merwe skryf ʼn nis oop binne ʼn gewigtige, gevestigde korpus oor hierdie Afrikaanse skrywer wat verrassende nuwe insigte oor Marais oplewer en terselfdertyd wegkalwe aan ander sekerhede, literêr en polities, waarvan die implikasies breër uitkring om met die kontemporêre Suid-Afrikaanse problematiek te resoneer. Dit plaas Donker Stroom in die kader van die “betrokke teks”. Donker stroom se statuur berus op verbeeldingryke en vasberade argiefnavorsing, gerugsteun deur knap en soomlose integrasie van sekondêre literatuur, noukeurige en oorwoë ontledings, en die handhawing van ʼn onderspeelde, geloofwaardige outeurstem.

Van der Merwe slaag daarin om onder die juk van bestaande werk uit te beur sonder geringskatting of onkritiese lof. Onthef van die verantwoordelikheid om ʼn magistrale werk te produseer, skep sy fokus op ʼn onderbeligte greep uit Marais se lewe die ruimte om die narratief maatskaplik en persoonlik dieper in te bed. As ʼn politieke biografie met ʼn psigososiale inslag sal hierdie werk die wyse waarop die bestaande korpus gelees word wesenlik beïnvloed.

Hierbenewens lê Donker stroom se krag in die herbesoek aan die vooroorlogse ZAR tot met Uniewording – ʼn tydvak wat in Benedict Anderson se terminologie gekenmerk word deur die sleutelrol van Afrikaanse drukkapitalisme in die geboorte van die verbeelde gemeenskap van die nasie – maar op ʼn wyse wat konseptueel en temporaal in die tradisie van transnasionalisme aangebied word.

Die jong Marais wat uit Donker stroom na vore kom, is ʼn subjek met ʼn vroeë narsissistiese verwondheid, ʼn verknoopte en gekompromitteerde binnewêreld, en ʼn ongewone dryfveer om maatskaplik-sosiale betrokkenheid en ʼn etiese politieke projek na te streef. Marais se binneworsteling het terselfdertyd ʼn sosiaal-maatskaplike teenhanger wat dit moeilik maak om in die drama wat uitspeel die interne en eksterne breuklyne netjies van mekaar te onderskei. In die verwronge en gekorrupteerde politieke wêreld van die ZAR en in die skadu van Britse Imperialisme word grense verwater en keuses tussen samewerking en inkorporering; kritiese lojaliteit en verraad; binnestander en buitestander; projeksie en herkenning onduidelik. Marais word dus ingeskryf in die representasie-register van die truukster, die bedrieër, die verklikker, die joiner, die impimpi wat telkens in historiografiese en literêre opgawes van die verskeie bevrydingstryde in Suider-Afrika opduik en die skerp onderskeid tussen patriot en verraaier bevraagteken en vertroebel.

Daarby bring Van der Merwe se slotsom oor die oorsprong van Marais se sleutelgedig “Winternag” – as die indrukke van ʼn boere-brandwag in die Suid-Afrikaanse veld wat van ver af kyk na Mapoch se nedersetting wat in ligte laaie staan – ʼn betekenisvolle en onthutsende perspektiefwending te weeg, juis op ‘n moment wanneer vuur weer ʼn hoofrepertorium van politieke stryd in Suid-Afrika is.

Donker stroom is ʼn vlot, fasetryke, en gesofistikeerde teks wat die burgerlike gespreksruimte verruim en dus ʼn waardige wenner van die kykNET-Rapportprys vir 2016.