Brandwaterkom, Alexander Strachan (2016 Fiksie wenner)

Uitgewer: Tafelberg

Commendatio: Frederik de Jager

In Brandwaterkom bring Alexander Strachan nie net die Anglo-Boereoorlog en die Grensoorlog opwindend in een verband saam nie, maar bring hy ook oorlogstemas en die strukturele eksperiment van sy hele oeuvre tot ‘n nuwe verdieping. Die beoordelaars was dit eens dat hierdie roman die hoogtepunt van sy werk tot dusver is.

Die Brandwaterkom in die Oos-Vrystaat is terrein wat goed verken is in die Afrikaanse fiksie, veral weens die kapitulering van die onbevoegde generaal Martinus Prinsloo. Strachan ondersoek egter nie in die eerste plek wat daar gebeur het nie, maar neem ‘n lesing van hoe daaroor vertel word.

‘n Geskiedenisstudent, die fiktiewe Esther Emmenes, vestig haar op Fouriesburg om navorsing te doen oor die werklike veldkornet Fanie Vilonel wat hom later by die Engelse magte aangesluit het. Die karakter Bullet uit Strachan se vorige roman, Dwaalpoort, kom soos ‘n dwaalkoeël daar aan om haar met haar navorsing by te staan. Hy is een van die versaakte soldate wat in die jare sewentig na Angola gestuur is. Catharina Venter, weer ‘n historiese figuur en een van die vroue wat in die holkranse van die hoogland geskuil het, probeer ook om Esther se gedagtes te beïnvloed.

Daar ontvou ‘n meervoud verhale van verraad.  Eerstens oorlogsverraad – onder Catharina se famililede, by Vilonel die joiner, maar ook die implisiete verraad van die apartheidsowerheid teenoor die soldate soos Bullet. Verder skryf die fiktiewe Esther huweliksverraad fiktief in by haar historiese relaas oor Vilonel. Uiteindelik is dit verraad wat onderliggend aan die hele boek lê, naamlik die bedrieglike spel van ‘n komplekse stel verhoudings tusssen verteller en teks, en tussen teks en leser.

Een van die dinge wat Strachan onderskei, is hoe hy sy medium – die roman – vervorm tot geskikte draer van wat hy wil sê. Hy gebruik een verteller uit die werklike geskiedenis saam met een wat suiwer fiktief is en nog een (of dalk twee) wat op geheimsinnige wyse in- en uitmekaar skuif. Hy bring ‘n verteller (een met ‘n geskrewe teks in sy sak) uit sy vorige roman by hierdie roman in – een wat ook met biografiese elemente van Strachan self oorvleuel. Hy laat ‘n historiese persoon op ‘n fiktiewe persoon influister oor haar werk oor ‘n ander historiese persoon. Die wedersydse inspeel op mekaar van vertellers en verteldes gebeur dus op oormekaarliggende vlakke in historiese tyd. En wanneer dit gebeur in ‘n konteks van verraad, wanneer vertellers beheer oor hulle karakters verloor, en wanneer historiese relaas onbewustelik oorgaan in fiksie, staan geskiedskrywing self in nuwe lig gekaats en vra ons die vraag: wat is geskiedenis?

Vir die betowering van die raaiselagtige wat hy met soveel presisie, integriteit en gravitas uitgeskryf het, is hierdie skrywer vele male bekroon. Die noukeurigheid van sy skryfwerk, die selfvertroue van aanpak, die opwindende besinning oor die aard van sy medium, sy oortuigende karakters en sy vorentoe stuwende prosa … dit alles maak van Strachan een van ons skerpste en subtielste skrywers en een wat, soos hier, ‘n deksels vernuftige storieverteller is. Een wat in elke opsig verdien om bekroon te word met die kykNET-Rapportprys vir 2016.

Frederik de Jager, keurder