Wolf Wolf, Eben Venter (2014 Fiksie wenner)

Uitgewer: Tafelberg

Commendatio:  Eben Venter – Wolf, wolf

Eben Venter se Wolf, wolf is ’n sterk en ontstellende roman waarin die verwikkelde verhoudinge tussen ’n groep karakters geplaas word teen die agtergrond van ’n kontemporêre Suid-Afrikaanse stadslandskap.  Die roman se sentrale karakter Mattheüs Duiker is ’n komplekse persoonlikheid:  hy is selfgesentreerd, kompulsief, verwend, naïef en as gevolg daarvan besonder kwesbaar in die verhoudings met sy vader Benjamin, sy minnaar Jack en die Kongolese vlugteling Emil Youlou wat vir hom werk in sy kitskosonderneming.

Die roman is ’n indringende ondersoek na die sentrale karakter se interaksie met die verskillende persone in sy lewe, veral die verhouding met sy vader vir wie hy versorg op sy sterfbed en op wie se uiteindelike aanvaarding hy as gay man hoop.  Alhoewel dit aanvanklik mag lyk asof die roman afstuur op ’n positiewe en versoenende einde tussen vader en seun, blyk dit ’n illusie te wees.  Die resultaat van Benjamin se finale verwerping van sy seun is die snelle afloop tot by ’n uitsiglose slot waarin Mattheüs letterlik alles verloor wat hy gehad het en totaal ontredderd gelaat word.

Op die persoonlike vlak teken die roman iemand wat as gevolg van sy beskermde agtergrond, relatiewe bevoorregting en onttrokkenheid van die werklikheid volkome onvoorbereid is op die realiteite van ’n land waarin sluheid, korrupsie, uitbuiting en bedrog so algemeen is dat die lewe ’n oorlewingstryd geword het.  Tegnologiese innovasie, die internet en sosiale media verwyder Mattheüs, en ook Jack, nog verder van die werklikheid en neem hulle ’n vervreemdende hiperrealiteit in eerder as om hulle toe te rus vir uitdagings waarmee hulle gekonfronteer word.  Op kollektiewe vlak is die roman – soos talle ander tekste in die Afrikaanse letterkunde – ’n verkenning van Afrikaners se aansprake op ’n lewe in Afrika en die geldigheid van hulle aannames.  Die “wolf, wolf”-gegewe met sy apokaliptiese assosiasies en intertekstuele geskiedenis in Afrikaans word op ’n besonder veelduidige wyse gebruik om die spanning in die roman op te bou en uiteindelik tot ’n ontnugterende klimaks te bring.  Die onskuldige kinderspeletjie ontaard in ’n tragedie waardeur die verskillende dierefigure in die roman terugwerkend nuwe betekenis kry.

Met hierdie roman toon Venter weer eens dat hy nie huiwer om die kilste moontlike scenarios van hulle leefwêreld vir sy lesers te teken nie.  Net soos Horrelpoot is Wolf, wolf ’n roman waarvan die weerklank nog lank in die Suid-Afrikaanse letterkunde sal bly nagalm. Die roman is ’n waardige wenner van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse!

 

Prof Louise Viljoen namens die beoordelaars.