Ester, Kerneels Breytenbach (2015 Film wenner)

Uitgewer: Human & Rousseau

Commendatio: Herman Binge, Lion’s Head Productions

Wat meer wil ‘n filmmaker hê as die stomende verhaal van ontluikende liefde tussen ‘n maagdelik-rigiede polisieman van Piet Retief en ‘n verleidelike Duitse spioen van Namibië? Saam op ‘n lotsbepalende treinreis na Kaapstad. Op ‘n lokomotief van die ou SAS&H. In 1946, ‘n jaar van groot politieke intrige in Suid-Afrika.

Kerneels Breytenbach se Ester is ‘n teks wat netjies binne ʼn bewese kommersiële filmgenre val. Dink maar aan Marlene Dietrich in Shanghai Express van 1932, Rex Harrison in Night Train to Munich uit 1940, Tony Curtis, Jack Lemmon en Marilyn Monroe in die onvergeetlike Some Like It Hot uit 1958. Wat nog van Frank Sinatra in Von Ryan’s Express uit die jaar 1965 en die klassieke  Murder on the Orient Express in 1974 met Albert Finney as Hercule Poirot. Ook die meer onlangse Transsiberian in 2008 met Woody Harrelson. Om maar net ‘n paar te noem.

Die eerste vraag met die beoordeling van enige boek vir film is uiteraard hoe prakties verwerkbaar dit is as ʼn rolprentteks. Breytenbach se treinrit bied die rolprentmaker lieflike visuele metafore. Stoom en vuur, swaar wiele wat knars op spore. Afwagting op die spore wat vir kykers voorlê en die spore wat die karakters agterlaat in die verbysnellende werklikheid. ‘n Werklikheid waarvan hulle – en die kyker – vir die duur van die film geïsoleer is.

Daar is oorgenoeg ruimte vir die nodige afwisseling tussen die dialoog-gedrewe interieur tonele en die buite tonele van stasies waar ons (en die storie) kan bene rek. Die moontlikheid van wye skote op ‘n trein wat deur pragtige natuurtonele gly, vanaf die wydsheid van Namibië deur die dorre Karoo na die groene Boland verlos die kyker ook vir ‘n oomblik van die kloustrofobie van klein kompartemente en benoude gangetjies.

Maar nie van die spanning wat opbou oor die naderende onheil wat by die eindbestemming wag nie.

Breytenbach se fyn beskrywings van onvergeetlike karakters en sy slim, gevatte dialoog kan feitlik onveranderd in ‘n draaiboek opgeneem word.

Die verwysings na werklike figure en historiese gebeure skep op hulle beurt die moontlikheid om van filmargiefmateriaal gebruik te maak om die atmosfeer van die periode te vestig. Die nostalgie en die heimwee oor gewilde treinritte in die verlede, met die ghong wat die sittings vir etenstyd aankondig. Die porselein, gestyfde tafeldoeke, silwer eetgerei en watertand geregte op die tafels in die eetsalon – die vrugtemandjies en beddegoedrolle in die kompartement – alles is aantreklike visuele elemente wat ‘n gehoor gaan geniet. So ook die elegansie van die era se modes.

Om nie te praat van die genot wat die musiek uit die vervloë era sal verskaf nie.

Die verhaal van Ester is ook haalbaar binne die finansiële beperkings van ons bedryf. Op  die oomblik is periode treine vir verfilming geredelik beskikbaar as gevolg van die verval van ons spoorweë. Oral staan wrakwerwe vol treine en ʼn paar word selfs kommersieel bedryf. Die rolverdeling vra ook nie vir ʼn onrealistiese aantal akteurs nie aangesien daar nie skares in ʼn trein geakkommodeer hoef te word nie.

Ten slotte is die feit dat Mev Denk Diuts is en nie Afrikaans of Engels kan verstaan nie, in werklikheid ‘n gawe werktuig wat telkens vir dramatiese effek gebruik kan word. Dit is gewoon dat Duitse dialoog in Afrikaans op die skerm in sub-titels verskyn. ‘n Ingryp wat ‘n kontinentale flair aan die projek sal gee en goed moontlik ‘n geleentheid is vir ‘n ko-produksie met ‘n Duitse maatskapy. Daar is juis tans ‘n hele paar Duitse maatskappye wat aktief aan die werk is in Suid-Afrikas – grootliks as gevolg van die swak rand, goedkoop tariewe en goeie klimaat.

Nogmaals geluk aan Kerneels Breytenbach met ‘n fyn gekallibreerde roman! Ester is ʼn waardige wenner van die kykNET-Rapport Boekpryse se filmtoekenning en iets om na uit te sien op die silwerdoek.