2016 wenners

WENNERS VAN KYKNET-RAPPORT-BOEKPRYSE VIR 2016 BEKEND
Strachan, Van der Merwe, Jacobs wen

Die wenners van die kykNET-Rapport-boekpryse – die grootste pryse van hul soort in Afrikaans – is op Erfenisdag, Saterdag 24 September 2016, in Kaapstad bekend gemaak. Die Jan Rabie-Rapportprys vir die beste debuutroman in Afrikaans asook die twee nuwe kykNET-Rapportpryse vir boekresensent van die jaar is by dieselfde geleentheid oorhandig.

Gepas vir Erfenisdag, is hulde ook by die prysfunksie gebring aan skrywers wat die weg gebaan het vir die Suid-Afrikaanse letterkunde soos dit vandag bestaan. Hieronder tel name soos LH Meurant, Olive Schreiner, SEK Mqhayi, Totius, Jan FE Celliers, Sol Plaatje, NP van Wyk Louw, Benedict Vilakazi, Adam Small en vele ander – skrywers met ’n ryke nalatenskap in ons landstale.

Die prysaand het egter behoort aan die huidige geslag skrywers, dié wat sulke aande moontlik maak.

Die kykNET-Rapport-boekpryse met ’n gesamentlike waarde van R500 000 is toegeken aan die volgende skrywers:

  • Fiksie: Alexander Strachan, Brandwaterkom (Tafelberg)
  • Niefiksie: Carel van der Merwe, Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog (Human & Rousseau)
  • Film: Jaco Jacobs, ’n Lekker dag vir boomklim (Lapa)

Die keurders het die fiksiewenner, Alexander Strachan, geloof vir nie net die noukeurigheid van sy skryfwerk, die selfvertroue van aanpak, die opwindende besinning oor die aard van sy medium, sy oortuigende karakters en sy vorentoe stuwende prosa nie, maar ook vir die betowering van die raaiselagtige wat hy in Brandwaterkom “met soveel presisie, integriteit en gravitas” uitgeskryf het.

Besondere waardering is ook uitgespreek vir die bedrieglik eenvoudige “standaardvlag” waarmee die niefiksiewenner, Carel van der Merwe, die verwikkelde, selfs verraderlike lading onder die dek in Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog versteek. Volgens die keurders skryf Van der Merwe ʼn nis oop binne ʼn gewigtige, gevestigde korpus oor hierdie Afrikaanse skrywer, een wat verrassende nuwe insigte oor Marais oplewer en terselfdertyd wegkalwe aan ander sekerhede, literêr en polities, waarvan die implikasies breër uitkring om met die kontemporêre Suid-Afrikaanse problematiek te resoneer.

Jaco Jacobs se jeugboek ’n Goeie dag vir boomklim het veral een keurder so betower dat hy nie kan wag om dit op die silwerdoek te sien nie. Volgens Gerrit Schoonhoven kry die boek dit reg om ooms soos hy weer te laat lees met die hart van ’n kind, oop en ontvanklik vir die groot waarhede en insigte wat daarin vervat is. Die beoogde kyker sal weer eerste liefde beleef, rebellie, konflik met ouers, tiener-angs en vervreemding. Ook ontwaking, dat mens moet en kan opstaan en baklei vir ’n boom, ’n saak waarin jy glo. Ook wanneer om op te hou baklei, “anders raak die baklei partykeer groter as die ding waarteen jy baklei”.

Die Jan Rabie-Rapportprys ter waarde van R35 000 word ook jaarliks toegeken en is een van die oudste pryse in Afrikaans vir debuutskrywers.

Vanjaar se wenner is die skrywer en internasionaal gerekende fotograaf Lien Botha vir haar roman, Wonderboom (Queillerie). Volgens die keurders wys sy met haar romandebuut hoe kragtig daardie selfde fyn blik in en deur die letterkunde lig kan werp op die binnewêreld van die gefolterde postkoloniale kind van setlaars wanneer dit geprojekteer word op ’n helaas heel waarskynlike en ongemaklik nabye apokaliptiese toekoms. Die keurders loof Wonderboom as ’n ryk, poëtiese en beduidende toevoeging tot die Afrikaanse romankuns; ’n literêre koorsdroom deur ’n kunstenaar wat haar gehoor se blik onthutsend verstel, verbreed en verfyn.

Waardering is nogeens uitgespreek vir die sterk jonger stemme wat besig is om hulle kleim met mening af te steek. Lien Botha is nie slegs die wenner van die Jan Rabie-Rapportprys nie, Wonderboom verskyn ook op die fiksiekortlys van kykNET-Rapport se hoofpryse. Eweneens is Debbie Loots se debuutroman, Split, nie net op die Jan Rabie-Rapport-kortlys nie, maar is dit onlangs ook met die ATKV-prosaprys bekroon.

Die wenners van die nuwe kykNET-Rapportpryse vir boekresensent van die jaar is Jean Meiring vir fiksie en Willie Burger vir niefikse. Dié pryse beloop R25 000 elk en word toegeken vir die beste Afrikaanse resensie wat in die voorafgaande jaar oor ’n Afrikaanse fiksie- en niefiksietitel onderskeidelik verskyn het. Beide wenresensies het verskyn in die boekeblad van Media24 se Afrikaanse dagblaaie (Beeld, Die Burger en Volksblad).

’n Paragraaf teen die einde van Meiring se resensie “Huppel met chutzpah oor konvensies heen“ oor Johan Fourie se roman Struisvoël (Netwerk24, 2 November 2015) is ewe veel van toepassing op sy resensie as op die oorspronklike werk, sê die keurders. Effe aangepas, sou dit lui: “(Die resensie) is voorwaar ’n rariteit in die Afrikaanse (resensiekunde). Dis ’n slim en spitsvondige (resensie) wat ’n sentrale tema in die Afrikaanse leefwêreld – die plaas en sy mitologiese nasleep – speels onder die loep neem.” En wat ’n heerlike leeservaring bied dit nie! sê die keurders. Meiring se insigte is gevat verwoord en hy toon uitstekende kennis van die konteks waarin die roman gelees kan word, die “morsige gejaag deur die boord van die Afrikaanse plaasroman”.

Willie Burger se resensie “Om kreatief te lewe is aanhou beweeg” oor Breyten Breytenbach se Parool / Parole: Versamelde Toesprake (Netwerk24, 26 Oktober 2015) is volgens die keurders ’n merkwaardige voorbeeld van hoe ’n uitstekende resensie veel meer kan wees as bloot ’n bespreking van ’n gegewe boek. Dit is ’n toeganklike, verteerbare ontsluiting van ’n komplekse teks en bied duidelike rigtingwysers waarmee lesers die werk en gedagtegang van Breytenbach kan verken. Dit is nóg meerderwaardig nóg neerhalend teenoor sogenaamd “gewone lesers” wat nie noodwendig reeds ’n Breytenbach op die rak het nie en bevat nie obskure verwysings wat net tot ’n nismark sal spreek nie. En tog is dit soveel meer as “Breytenbach 101” vir die hoofstroom. Ook vir diegene wat deeglik vertroud is met Breytenbach se werk, bied Burger se resensie sinvolle, boeiende leesstof.

Die keurpanele vir die onderskeie pryse was: kykNET-Rapport-fiksieprys: Frederik de Jager, Elmari Rautenbach, Steward van Wyk en Gerrit Schoonhoven; kykNET-Rapport-niefiksieprys: Herman Wasserman, Irma du Plessis, Darryl David en Herman Binge; kykNET-Rapport-filmprys: Herman Binge en Gerrit Schoonhoven; kykNET-Rapport-boekresensentpryse: Yvonne Beyers, Jomarié Botha, Piet Matipa en Bibi Slippers; Jan Rabie-Rapportprys: Danie Marais, Elna van der Merwe en Kerneels Breytenbach.

Die seremoniemeester vir die aand was Karen Meiring van kykNet. Die prysfunksie is by die restaurant Yumcious in Groenpunt, Kaapstad gehou.