GROOT AFRIKAANSE BOEKPRYSE NOU NOG GROTER

kykNET-Rapport-boekpryse se prysgeld word verhoog

Ter erkenning van die prestasies van Afrikaanse skrywers, plaaslik sowel as internasionaal, is die prysgeld van die jaarlikse kykNET-Rapport-boekpryse met 40% verhoog tot altesaam R750 000. Die Jan Rabie-Rapportprys, wat ingesluit word by dié pryse en vanjaar vir sowel debuut- as tweede fiksiewerke in Afrikaans toegeken word, het meer as verdriedubbel en beloop nou R125 000.

Die kykNET-Rapportpryse vir beste Afrikaanse fiksie en niefiksie onderskeidelik is elk met R50 000 verhoog tot R250 000, en die prys vir die mees verfilmbare fiksie- of niefiksietitel in Afrikaans met R25 000 tot R125 000.

Naas die Helgaard Steynprys wat elke vier jaar aan ’n Afrikaanse woordkunstenaar toegeken word, bied hierdie pryse die grootste geldelike erkenning en aansporing vir die skep van Afrikaanse fiksie en niefiksie wat die plaaslike letterkunde en lesers se gedagte- en leefwêreld verryk en verruim.

“Die verhoging in prysgeld is ’n beloning vir Afrikaanse skrywers wat meegewerk het om die verkope van Afrikaanse boeke die afgelope dekade te verdubbel,” sê die sameroeper van die kykNET-Rapportpryse, Hettie Scholtz. “Maar die prysgeld versterk nie net ’n skrywer se hand nie, dit beklemtoon ook die kulturele waarde van boeke en lees, en die premie wat daarop geplaas word in ’n era van hapklare brokkies.”

Gegewe die klein Afrikaanse boekemark met sy beperkte verkope, bied prysgeld van dié aard ook aan skrywers die finansiële vryheid om meer tyd aan hul skryfwerk te wy en navorsing te doen. Terwyl vorige wenners van die kykNET-Rapportpryse dit eens is dat dit met boekpryse eerstens oor die erkenning gaan, kan stewige prysgeld op ’n praktiese vlak ’n groot verskil maak.

So sê Eben Venter, wenner van die fiksieprys in 2014 vir Wolf, wolf, dat hy lank genoeg van sy prysgeld kon leef om sy laaste roman, Groen soos die hemel daarbo, klaar te maak. Zirk van der Berg, wenner van die eerste filmprys in 2014 vir ’n Ander mens, het sy prysgeld gebruik om in Namibië navorsing te gaan doen vir sy nuwe boek, Die verte in, wat eersdaags by Kwela verskyn. Carel van der Merwe se 2016-niefiksieprys vir Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog het hom aangespoor om nog ’n historiese werk aan te pak en in staat gestel om uitgebreide navorsing hiervoor in die VK en VSA te gaan doen.

Die reuseverhoging in die prysgeld van die Jan Rabie-Rapportprys bied ekstra aanmoediging vir aspirant- en beginnerskrywers om hul skeppende vermoëns vrye teuels te gee. Soos Lien Botha, wenner van dié prys in 2016 vir Wonderboom dit stel: “Dis hout vir vuur of skip.”

Kerneels Breytenbach, wat vanjaar ’n keurder sal wees vir die Jan Rabie-Rapportprys, voeg by: “Hopelik spoor dit baie ongepubliseerde skrywers aan om daai werk wat hulle in die laai wegsteek, te gaan klaarmaak en uitgewers toe te stuur.”

“Talle goeie skrywers se werk word meermale nie bekroon nie. Dis ’n soms ondankbare kuns waarvoor die publiek nogtans baie dankbaar is,” sê Waldimar Pelser, redakteur van Rapport. Hierdie is bloot ’n inisiatief om vir een of twee skrywers wat deur ons keurders uitgesonder word, die tipe prysgeld te gee wat hulle kan help om meer van hul tyd te gebruik om te dink en om te skryf.”

Karen Meiring, direkteur van kykNET-kanale, die ander titelborg, voeg by: “Ons is baie trots op ons betrokkenheid by die kykNET-Rapportpryse. Dit is ’n uitstekende bron vir films en moontlike reekse.”

Inskrywings vir die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- of tweede werke sal binnekort aangevra word. So ook inskrywings vir die kykNET-Rapportpryse vir die beste fiksie- en niefiksieresensies in Afrikaans, wat vanjaar vir die derde keer toegeken word.

Die wenners van vanjaar se pryse word oudergewoonte in September in Kaapstad bekend gemaak.